Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ware vrede - 19 Maart 2015

Stephan Hoffman

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Filippense 4:8-9

Almal soek na vrede. Jy het seker ook al gewonder of daar iewers ‘n plek van vrede is, waar ’n mens veilig en in harmonie kan lewe? Innerlike vrede is nog meer skaars. Vrede met God, jou naaste en jouself is nie in hierdie wêreld te vinde nie. Hierdie vrede is net moontlik in Jesus Christus.

Paulus is in die tronk omdat Hy verkondig dat Jesus die Here is. Uit 'n menslike oogpunt ervaar hy nie baie vrede nie. Inteendeel Christene is in daardie stadium behandel as vyande van die staat. Tog praat hy van ‘n soort vrede wat alle begrip oortref en hy sê dat hierdie vrede met ons sal wees.

Die geheim om hierdie vrede te ontdek setel in dit waarop jou gedagtes rig. Het jy vandag al jouself gerig op dit wat waar, eerbaar, reg, rein, lieflik en loflik is? Ons sien so maklik die gebreke in omstandighede en in ander mense raak. Ons rig so maklik ons gedagtes op die leun, op dit wat vals en afskuwelik is. Ons weet dat niks mense se aandag so trek soos ‘n lekker skinderstorie nie. Die media verkoop ook baie lekkerder aan slegte nuus of skandes as aan goeie nuus en prestasies.

Ek is seker daar is ‘n prysenswaardige saak of ‘n deug wat vandag ook deel van jou lewe is, wil jy nie weer daarop fokus en die goeie oordink nie? Dalk kan jy betrokke raak by iets baie meer en groter as jouself?

Paulus pleit dat die gelowiges sy voorbeeld sal volg. Dit wat hy hulle geleer en gegee het, dit wat hy gesê en gedoen het, moet hulle doen. Ek wonder soms of ons met vrymoedigheid hierdie woorde aan ander mense of selfs ons kinders kan sê? Kan jy vir ‘n jongmens sê: “Volg my voorbeeld, praat soos jy my hoor praat, tree op soos jy my sien optree”? Of sê ons baie keer vir kinders om te luister wat ons sê, maar nie te doen wat ons doen nie?

Kom ons leef as voorbeelde van mense wat gerig is op dit wat prysenswaardig is. Ons het hierdie belofte dat God self, ja die enigste een wat ware vrede kan gee, by ons is.

Gebed: Vader, so baie keer rig ek my gedagtes op verkeerde dinge. Afguns, haat, jaloesie en begeertes trek so maklik my aandag van U af. Hierdie dinge lei my na onvrede en pyn. Help my asseblief om terug te draai na U toe en my hele lewe te rig op U. Dankie dat ek weet dat U die enigste bron van ware vrede is en dat U kom vrede maak het met my deur Jesus Christus. Help my asseblief om ook in vrede te lewe met myself en met ander. Amen

Previous article: Wees tevrede - 20 Maart 2015 Prev Next article: Moet oor niks besorg wees nie - 18 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.