Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 1 Oktober

HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS

HET JY DIE REEKS GENIET? Deel jou opinie met ons by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..


DAG 19: MAAK VERHOUDINGS JOU NOMMER EEN PRIORITEIT

Deur Benescke Janse van Rensburg

In my werk as joernalis het ek die voorreg om gereeld met mense oor hoogtepunte en laagtepunte in hul lewens te gesels. Daar was al diegene wat my vertel het hoe God hulle deurgedra het nadat hulle of ’n geliefde met ’n siekte gediagnoseer is. Ander het my al vertel hoe God deurbrake oor hul pad gebring het toe hulle in ’n finansiële krisis vasgevang was. Nog ander het vertel hoe God hulle van ’n verslawing vrygemaak het, hoe Hy aan hulle ’n baba gegee het toe dit gelyk het asof kinderloosheid hul lot in die lewe is, hoe Hy aan hulle ’n beter werk gegee het toe hulle afgelê is en/of hoe Hy fantastiese verassings oor hul pad gebring het op ’n tydstip wat hulle dit glad nie verwag het nie. Dít is die God wat ons aanbid.

Wat my uit hierdie gesprekke opgeval het, is dat die meeste van die mense aan die einde van die storie sal sê: “Ek het in hierdie moeilike tyd opnuut die waarde van vriende en familie ontdek. Ek wil net vir almal baie dankie sê vir hul ondersteuning in die tyd wat ek dit geweldig nodig gehad het.”

Dit is waar. Wanneer ons deur moeilike tye gaan, verlang ons na iemand wat ons hand kan vashou en ons kan verseker dat dit “nie so erg is nie”. Wanneer ons gelukkig is, wil ons, ons geluk met iemand deel. Wanneer ons hartseer is, verlang ons na iemand se arms om ons om ons te vertroos. En wanneer ons onseker oor ’n saak is, wil ons met iemand gesels wat ons kan help om perspektief op die saak te kry.

Ek wonder: Maak jy verhoudings só ’n prioriteit dat jy met vrymoedigheid ander se bystand sal vra as ’n krisis môre oor jou pad kom? Soek jy daagliks na geleenthede om jou verhoudings met jou huweliksmaat, jou kinders, jou kollegas, jou skoonouers en/of jou vriende en vriendinne sterker te maak of wag jy dat iemand anders altyd eerste na jóú uitreik? Kan jy met ’n geruste hart sê dat jy jou verhoudings bó jou werk, sport of doelwitte vir die toekoms stel?

In Mattheus 22:37-39 vra die skrifgeleerdes vir Jesus wat die grootste gebod is. Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

Wees lief vir God. Wees lief vir mense. Dít is God se opdragte aan ons omdat Hy weet watter vreugde op ons wag as ons hierdie dinge in ons lewens toepas.

Ek moedig jou aan om van vandag af doelbewus in die verhoudings in jou lewe te belê. Mag jy só leef dat jy met vrymoedigheid na ander kan uitreik wanneer jy ondersteuning benodig, maar ook dat jy die persoon word met wie ander eerste die vreugdes in hul lewe wil deel. En mag jou nalatenskap op aarde nie net spreek van al jou prestasies nie, maar eerder oor wat jy vir die mense rondom jou beteken het. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U mense in my lewe geplaas het wat my ondersteun en wie ek kan ondersteun. Help my asseblief om verhoudings in my lewe ’n prioriteit te maak en in elke situasie met wysheid op te tree om só ander se lewens beter te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Einde van die reeks . . . voorlopig. Benescke is af vir ’n maand.


NOTA VAN SKRYWER:

Baie dankie aan elke leser wat moeite gedoen het om oor die afgelope paar weke vir my te skryf. Ek staan telkens verstom oor hoe God betrokke is in ons elkeen se lewens.

Hoewel daar nog baie is waaroor ek in die huidige reeks wil skryf, sluit ek dit vandag voorlopig af. In die volgende maand gaan ek my boek, Ontdek God – in die stories van mense, gereed kry sodat dit hopelik in elkeen van julle (en julle geliefdes) se Kerskouse kan beland. J Dit behoort in November op die winkelrakke te verskyn.

Ek is op 1 November 2010 terug. Tot dan laat ek julle in die hande van ’n bekwame skrywer. Mag elkeen van julle God se teenwoordigheid in julle lewens ervaar en daarna streef om fantastiese verhoudings met die mense rondom julle te bou.

Alle seën,

Benescke

HET JY DIE REEKS GENIET? Stuur vir ons jou mening oor die huidige reeks, FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS, asook die vorige reeks, STEL GOD EERSTE na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..


NUUSBROKKIES:

  • Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:

o         Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of 042-2432080 of 0828755440.

  • Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.

TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 4 Oktober Prev Next article: Vers n dag - 30 September Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.