Wees tevrede - 20 Maart 2015
Stephan Hoffman
Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Filippense 4:10-13
Paulus is dankbaar oor die versorging wat hy van hierdie gemeente in Filippi ontvang. Die intieme band tussen hom en die gemeente is duidelik sigbaar in die manier waarop hy met hulle praat. Hy maak namens hulle verskoning omdat hulle nie eerder aan hom kon aandag gee nie en verseker hulle dat hy geleer het om onder alle omstandighede dankbaar en tevrede te wees.
Dit is maklik om positief en verdraagsaam te wees as dit met jou goed gaan. Tog kom ons ware karakter baie vinnig na vore as ons ontbering beleef. Vra maar vir enige een wat al ‘n vyf-dag staproete voltooi het met ‘n rugsag op jou rug, wat nog van honger ly soos wat Paulus ervaar? In ons daaglikse lewe kan ontbering ook die slegte in ons uitbring, maar Paulus sê dat hy tot alles in staat is deur Christus wat hom krag gee.
Selfs te midde van die moeilikste omstandighede, honger en gebrek, sê Paulus het hy geleer om tevrede te wees. Dit lyk of ‘n groot deel van vrede in tevredenheid setel. Ons is so maklik ontevrede. As my motor breek of die krag al weer af is, maak ons vinnig ons ontevredenheid bekend. In verhoudings raak mense ook ontevrede. Huweliksmaats raak ontevrede met mekaar en twis of skei, kinders raak ontevrede met ouers en rebelleer, werknemers raak ontevrede met werkgewers en staak.
Het jy ook al gewonder wat sou gebeur het as Adam en Eva maar net tevrede was om in die Paradys te lewe? Ja ons kan selfs ontevrede raak met God en Hom begin verwyt oor dinge wat verkeerd loop in ons lewe. Christus kan ons egter help om te midde van teëspoed en swaarkry, blymoedig, dankbaar en tevrede te wees.
Kan jy ook saam met Paulus uitroep: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee!” ? Kom sê dit nog ‘n keer vir jouself: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee!” Ja, daar is niks wat ons van God se liefde kan skei in Jesus Christus nie (vgl Romeine 8). Daarom kan ons onder alle omstandighede tevrede wees.
Gebed: Here, help my asseblief om te besef hoeveel voorregte ek het en hoe geseënd ek is. Help my om nie ontevrede te raak en myself met ander se voorspoed en sukses te vergelyk nie. Help my asseblief om te onthou dat ek tot alles in staat is deur U wat my krag gee. Dankie Here, ek is tevrede met wat ek het, wie ek is en met my omstandighede. Amen