Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Deel ook in mekaar se swaarkry - 23 Maart 2015

Stephan Hoffman

Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen  Filippense 4:14-20

Om lief te hê beteken dat ons in mekaar se vreugde deel. Almal hou van hierdie kant van die liefde, dit is mos lekker om saam met ander gelukkig te wees en bly te wees, maar wat van die ander kant? Om lief te hê beteken om ook in mekaar se swaarkry te deel. Dit is die moeilike kant van liefhê en dit is hierdie kant waarvoor baie mense vandag nie kans sien nie.

Dink net aan hoeveel huwelike op die rotse beland die oomblik as swaarkry oor ons pad kom. Hoeveel “mooiweersvriende” verdwyn by die agterdeur uit as teëspoed by die voordeur instap?

Gelowiges het mekaar gelukkig anders lief as die oppervlakkige gevoel wat die wêreld liefde noem. Paulus het iets van hierdie liefde by die gemeente in Filippi beleef, hulle het in sy swaarkry gedeel en hom nie net oorgelaat aan homself nie. Die verkondiging van die evangelie het hulle lewens so radikaal verander dat hulle graag daardie gawe met ander mense wou deel. Hulle het Paulus ondersteun en versorg en hy is gevul met dankbaarheid. Hy verseker hulle ook nou van sy welstand, sodat hulle nie verder bekommerd moet wees oor hoe dit fisies met hom gaan nie.

Paulus noem hierdie soort opofferende liefdesdiens 'n lieflike geur. Dit herinner aan die wierook wat in daardie tyd gebruik was as offer om God te behaag. Hy weet die Filippense se liefde setel nie in oppervlakkige filantropie nie, maar in hulle verhouding met God. Hulle bewys barmhartigheid omdat hulle dankbaar is vir die barmhartigheid wat hulle ontvang het. Paulus verseker hulle ook van God se volgehoue genade en dat Hy sal voorsien uit sy heerlike rykdom in Christus Jesus.

Ons het soveel genade en barmhartigheid ontvang in Christus. Dalk is jy ook verder geseën met genoeg om te voldoen in jou aardse behoeftes. Wil jy nie ook vir God dankie sê vir sy liefde, deur jou voorregte met ander te deel nie? Ek is seker jy sal vandag nog iemand kan raakloop wat besig is om swaar te kry. Onthou dan dat ware liefde ook beteken om in ander se swaarkry te deel soos God in jou ellende kom deel het in Christus.

Gebed: Here, maak my tog bewus van hoe bevoorreg ek is. U het my die grootste rykdom geskenk in Christus en U sorg elke dag vir my. Gee dat ek u liefde ook sal deel met ander, deur in hulle vreugdes, maar ook in hulle swaarkry te deel.  Amen

Previous article: Is jy 'n heilige? - 24 Maart 2015 Prev Next article: Wees tevrede - 20 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.