Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 4 Oktober

Inleiding

Liewe vers’ndag-lesers,

Vir Oktobermaand is ek verantwoordelik vir vers’ndag en het besluit om oor die Koninkryk van die Hemel te skryf aangesien dit ons as gelowiges, wat nie net met verlange uitsien na die koms van die koninryk in die volheid van die tyd nie, maar wat elke dag tekens van die koninkryk van die hemel tussen ons sien blom, so na aan die hart lê. My bede is dat jy deur elke dag iets te lees oor die koninkryk van God op aarde, bewus sal raak van die rol wat jy het om te vervul om die koninkryk sigbaar te maak in wêreld wat blind geraak het vir God se teenwoordigheid onder ons.

Ek vertrou dat u saam met my die reis deur die koninkryk sal geniet.

Hennie Symington

1.    Is God se Koninkryk vir my ’n werklikheid?

Hennie Symington

Skriflesing

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my water wat in die hemel is.” Matt. 7:21

Die “Goeie Nuus” oor die koninkryk van die hemel

As Christene is ons almal gemoeid met die Koninkryk van God. Vir sommige is dit ’n konsep wat slegs bestaan in vergesigte op die hemel of die lewe na die dood. Tog word ons keer op keer daaraan herinner dat die koninkryk van God reeds en steeds teenwoordig is op aarde sowel as in die hemel.

 

Alles wat Jesus ons op aarde geleer het, het te doen gehad met die   Goeie nuus van die Koninkryk van God. Sy etiek, sy beskouing oor godsdiens, dit wat Hy oor homself gesê het het alles te make gehad met die “goeie nuus” van die Koninkryk van God. In Matt. 2:3 se Hy:  “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Hoe raak dit my?

Dit raak ons doen en late ten nouste omdat ons burgers van hierdie koninkryk is. As kinders van God kan ons nie kies wanneer of waar ons die koninkryk wil belewe nie omdat die koninkryk reeds teenwoordig is. Wat ons egter kan kies is hoe ons die koninkryk sigbaar kan maak in ’n wêreld wat blind is vir die werklikheid van God se teenwoordigheid op aarde. Dit raak elke aspek van ons lewens en bepaal hoe jy met die lewe omgaan – van jou optrede teenoor die lastige bedelaars by die kruispad, jou tiener in jou huis, jou moeilike man of vrou, jou bejaarde ouers, jou kollegas by die kantoor, tot die vreemdeling in jou poorte.

 

So, kom ons gaan op ’n reis deur die koninkryk en kyk waar dit ons gaan uitbring. Geniet die reis!

Here vergewe my as ek my verbeel die koninkryk het niks met my lewe hier en nou te make nie. Maak my bewus van u teenwoordigheid in alles wat ek doen, sien en ervaar..

Previous article: Vers n dag - 5 Oktober Prev Next article: Vers n dag - 1 Oktober Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.