Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Daar is ’n groene heuweltop - 1 April 2015

Xanthe Hancox

Daar is ’n groene heuweltop

Daar buite Sions muur

Daar het ons Heer vir ons behoud

Eens naamloos smart verduur.

 

Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Johannes 19:17-20

Cecil Frances Alexander was ’n buitengewone vrou. Sy is in 1818 in Ierland gebore en het reeds in haar kinderjare begin om liedere en gedigte te skryf.  Teen die ouderdom 22, was sy reeds bekend vir haar liedere en haar komposisies is in die Anglikaanse Kerk in Ierland se liedboek ingesluit.  Op die ouderdom van 32 jaar is sy, tot groot ontsteltenis van haar familie, getroud met ‘n Anglikaanse predikant wat ses jaar jonger as sy was.

Cecil Alexander was van mening dat liedere die beste manier was om kinders in geestelike waarhede te onderrig. Daarom het sy haar talent onder andere gebruik om kinderliedere te skryf. Die woorde van die geliefde Paaslied “There is a green hill far away” (In Afrikaans: “Daar is ‘n groene heuweltop” Hallelujalied 82) is gebaseer op die woorde van die apostoliese geloofsbelydenis: “wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het, en begrawe is.”

Jesus het dit alles deurgemaak sodat ons dit nie hoef te doen nie. Hy het smart en lyding beleef op ‘n manier wat ons nooit sou kon verduur nie. Hy is gestraf vir sonde, alhoewel Hy nooit self gesondig het nie.

Hierdie lied is miskien 150 jaar gelede vir kinders geskryf, maar Cecil Alexander se lied bevat die essensie van Paasfees en die kern van ons geloof. Dit is waarskynlik die rede hoekom dit wêreldwyd deur gemeentes gesing word. In jou voorbereiding vir Goeie Vrydag luister gerus hier https://www.youtube.com/watch?v=d0ybUpuLn8M na die woorde van die lied.

Stel jou voor: drie kruise op die heuweltop daar buite die Sionsmuur en honderde mense wat die kennisgewing lees wat Pilatus op die een kruis laat aanbring het.  Wat is jou reaksie op “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode”?

Gebed: Here Jesus dit was ook my sonde wat U na die kruis gestuur het.  Hemelse Vader ek kan maar net vir U dankie sê vir die nederigheid en ontferming van u Seun. Dankie dat deur die kruis U my verlossing bewerkstellig het. Dankie vir u liefde. Help my om elke dag met vreugde as ‘n verloste mens te leef. Amen

Previous article: Die dierbare kruis - 2 April 2015 Prev Next article: Oorwinnaars - 31 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.