Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die dierbare kruis - 2 April 2015

Xanthe Hancox

Daar’s ’n dierbare kruis, waar my Heiland bewys

Die liefde wat Hy vir my het;

Daar is alles voldaan en die vyand verslaan,

Daar word ek van sonde gered.

Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Galasiërs 6:14

George Bennard het baie oor die kruis nagedink.  Hy was in die vroeë 1900’s ‘n reisende evangelis in die noordelike dele van die Verenigde State van Amerika. Op een stadium, nadat hy van een van sy reise teruggekeer het na Michigan waar hy gewoon het, het hy geestelik ‘n baie moeilike tyd beleef. Hy het ure met sy Bybel en in meditasie deurgebring. Hy het later hieroor gesê: “Ek het die Christus van die kruis gesien en dit was asof Johannes 3:16 die gedrukte woorde van my Bybel verlaat het en lewend geword het sodat ek verlossing werklik kon verstaan.”  Gedurende hierdie tyd het hy die woorde van “Daar’s ‘n dierbare kruis” neergepen.

Een van die temas van die lied is dat die stryd wat ons hier stry tydelik is en dat niks kan vergelyk met die krag van die kruis en die kroon wat ons eendag wanneer ons by Jesus is, sal ontvang nie. 

In sy brief aan die Galasiërs sê Paulus ook dat daar niks anders is om oor te roem as die kruis nie. Hiermee bedoel hy dat die kruis die rede vir sy blydskap en vervulling is. Hy ag die kruis na groot waarde. Deur oor die kruis te roem, verwerp Paulus die idee dat hy oor sy eie krag en vermoëns kan roem of groot waarde sal vind in die materiële dinge wat die wêreld offer. Paulus sê dat die vrede en vreugde van die kruis al hierdie wêreldse dinge vervang. Paulus kon hierdie aanspraak maak omdat hy geglo het dat Jesus se dood aan die kruis ons van die ewige dood verlos en aan ons ewige lewe skenk.

Môre is dit Goeie Vrydag. Luister gerus na hierdie Engelse opname van dié bekende lied en dink ‘n bietjie na oor die plek van die kruis in jou lewe. Wat beteken hierdie dierbare kruis wat so dikwels deur die wêreld verwerp word, vir jou?

https://www.youtube.com/watch?v=Fw22YE-ekog

Gebed: Vader, vergeef my vir die kere wat ek nie oor die kruis roem nie – vir die kere wat my houding, my woorde en dade nie erkenning gee aan die prys wat u Seun vir my aan die kruis betaal het nie. Help my om elke dag net oor die kruis te roem en U sodoende deur my lewe vereer. Amen

Previous article: Jesus, ons eer U - 7 April 2015 Prev Next article: Daar is ’n groene heuweltop - 1 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.