Jesus, ons eer U - 7 April 2015
Xanthe Hancox
Jesus, ons eer U, opgestane Heer.
Lewensvors en Koning, U het triomfeer!
Hoewas U verneder, hoe het U gely;
Hoe is U verheerlik! U voer heerskappy.
Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Matteus 28:2,5-6
Toe die Franssprekende Switserse predikant, Edmond Budry, in 1884 die lied “A toi la gloire” (Jesus, ons eer U) geskryf het, sou hy hom nie kon voorstel dat dit een van die bekendste liedere ter wêreld sou word nie.
Hierdie pragtige vreugdevolle lied vertel van Jesus se opstanding, die opstandingsverhaal wat ons ook in die Evangelies volgens Matteus en Johannes kan lees. Die lied begin deur Jesus te eer. Hy wat die laaste vyand, die dood, vir ons oorwin het. Dit is ons rede vir blydskap. In die woorde van die oorspronklike Franse lied en ook in die Engelse vertaling “Thine be the glory” vertel Budry die Bybelse verhaal.
Die engel het die klip voor die graf weggerol en in die graf was die doeke waarin Jesus begrawe was netjies opgerol. Die doeke word nie deur ‘n lewende persoon benodig nie. Jesus het ook nie in die niet verdwyn nie. Hy verskyn aan sy vriende en bewys so dat Hy leef. Die Evangelies vertel van Tomas, die twyfelaar. Tomas versinnebeeld ons almal wat sukkel om te glo. Tomas wat klinkklare bewys van Jesus se opstanding wil hê. Tomas kry sy bewyse en Jesus sê aan hom om op te hou twyfel en om te glo. Bundry is netso oortuig van Jesus se opstanding as wat Tomas was. In die Engelse vertaling van die lied is die woorde: “no more we doubt thee” en in die Afrikaans die mooi woorde van geloof: “omdat U oorwin het, sal ons triomfeer!” Die Here sal ons deur ons eie moeilike tye lei, Hy baan vir ons die weg. Jesus, die opgestane Heer het vir ons oorwin.
Budry gebruik Handel se musiek om die opstandingsverhaal te besing. Die lied einding triomfantlik: Jesus ons eer U, opgestane Heer, nou het ons ‘n toekoms: lewe by ons Heer!” Jesus het op daardie Paassondag in Jerusalem oorwin, maar Hy het ook vir ons wat nou op aarde is, vir jou en vir my, oorwin.
Luister hier na ‘n Engelse weergawe van Budry se lied gesing deur die koor van King’s College: https://www.youtube.com/watch?v=lXzmjNE-yLA
Gebed: Here Jesus vergewe my dat ek, soos Tomas, soms twyfel. Dankie vir die blydskap wat kom deur die wete dat U leef. En dankie dat ek omdat U leef nie die dood hoef te vrees nie. Amen