Die Heer het opgestaan - 8 April 2015
Xanthe Hancox
Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. 1 Korintiërs 15:55-57
Die Heer het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan! Verlede Sondag het Christene regoor die wereld die opstanding van ons Verlosser met hierdie woorde in herinnering geroep. Indien jy 'n erediens bygewoon het, is die kanse goed dat jy hierdie woorde gesing het:
Kyk die Heer het opgestaan. Halleluja!
Kyk die graf het oopgegaan. Halleluja!
Christus het vir ons gesterf. Halleluja!
Lewe deur sy dood verwerf. Halleluja!
Die vroegste voorbeeld van hierdie lied is sover bekend opgeteken in 'n Latynse teks uit die 14de eeu. In 1708 is die vier Latynse verse in Engels vertaal en 'n paar dekades later, in 1739, het John en Charles Wesley 'n hersiene weergawe gepubliseer. Die woorde wat ons nou in Afrikaans het, is deur Elsabé Kloppers neergepen.
Die lied wat vandag in baie kerke in Engels of Afrikaans gesing word, verskil egter van die van Wesley. Die oorspronklike lied het nie die Halleluja's bevat nie. Iemand wie se naam nie bekend is nie, wou die woorde van die lied voeg by die wysie wat ons vandag sing. Dit het nie heeltemal gepas nie en daarom is die Halleluja's bygevoeg. Hierdie wonderlike Paaslied het dus tot stand gekom deur die werk van verskillende persone wat mekaar nooit ontmoet het nie. Hulle het heel moontlik ook nie besef hoeveel hulle werk tot die viering van Paasfees sou bydra nie.
Die lied is 'n oorwinningslied want Hy het opgestaan. In die Engelse woorde van die lied word Paulus se woorde uit 1 Korintiërs 15:55 aangehaal: "Where O Death is now thy sting? Where's thy victory boasting grave?" Deur die Afrikaanse woorde jubel ons dit uit: "Kyk die graf het oopgegaan …. " en in die derde strofe "Eenmaal sal ons by Hom wees … Dan vier ons vir ewig fees." Hy het die dood vir ons oorwin en daarom kan ons sing: "Lewe deur sy dood verwerf. Halleluja!" Saam met hulle wat getuies van sy opstanding was, met al die geslagte daarna, leef ook ons in die hoop dat deur ons Here Jesus Christus ons die oorwinning oor die dood het en soos die Afrikaanse woorde van die lied lui: "Eenmaal sal ons by Hom wees. Halleluja".
Sing hierdie lied uit volle bors en loof die Here vir die oorwinning oor dood en hel wat Hy vir ons aan die kruis behaal het. Luister mooi, uit die hemel kom die eggo "Halleluja".
https://www.youtube.com/watch?v=PFjnlBn0K10
Gebed: Ons dank U dat danksy Jesus Christus wat die dood oorwin het, daar krag in ons lewens is. Help ons vandag deur u Gees om voluit en met vreugde te leef. Amen