Sing, o sing van ons Verlosser - 9 April 2015
Xanthe Hancox
Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” Galasiers 3:13
Op 29 Desember 1876 ry 'n sneltrein van Ohio in die VSA oor 'n brug wat oor 'n diep kloof strek toe dit meegee en al die waens onder in die kloof beland. 'n Jong komponis en gospelsanger, Phillip Bliss, ontsnap uit die wrak, maar toe die waens aan die brand slaan gaan hy terug om te probeer om sy vrou te red. Beide Bliss en sy vrou se liggame is nooit gevind nie.
In sy tas, wat op 'n wonderbaarlike manier ten spyte van die ongeluk en die brand behoue gebly het, is die manuskrip gevind van 'n lied wat ons vandag nog sing, "Ek sal sing van my Verlosser". Die koor van die lied lui soos volg:
Sing, o sing van ons Verlosser,
Aan die kruis het Hy gely.
Deur die dood bring Hy versoening,
Van ons skuld maak hy ons vry.
Die woorde wat Phillip Bliss neergepen het vind weerklank in dit waaroor Paulus in sy brief aan die Galasiërs skryf. Paulus sê dat Christus ons losgekoop het van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word.
Vervloek! Nie net in die sin dat Hy deur sy vervolgers gespot en gemartel is nie, maar in die sin dat Hy as gevolg van ons sondes die vloek van die dood moes dra. Hy moes die vervloekte word; Hy het aan die kruis gesterf – Hy is te midde van 'n jillende skare aan 'n hout opgehang, tereggestel soos 'n gewone misdadiger. Dit is moeilik om aan onsself as vervloektes te dink en nog moeiliker om te dink dat Jesus hierdie vloek vir ons gedra het.
Maar dit is die waarheid en die wonder van Paasfees; Deur Jesus se skande en dood aan die kruis het God vir ons verlossing bewerkstellig. Jesus het in ons plek die vervloekte geword en ons vrygemaak van die vloek van ons sondes. Loof die Here!
Luister gerus hier na 'n Engelse opname van "I will sing of my Redeemer":
https://www.youtube.com/watch?v=HU5hhE9cN6A
Gebed: Hemelse Vader, U is regverdig en heilig in alles wat U doen en daarom kan U nie my sondes ligtelik opneem nie. Ek dank U dat U deur u wysheid en genade toegelaat het dat u Seun die vloek in my plek aan die kruis gedra het. Amen