Staan op vir Jesus - 10 April 2015
Xanthe Hancox
Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Efesiërs 6:13-15
In die lente van 1858 het 'n geestelike herlewing in Philadelphia in die VSA uitgebreek. Eerw Dudley Ting, 'n episkopaalse predikant, is as die leier van hierdie herlewing beskou. Hy was 'n dinamiese prediker, maar is heftig gekritiseer vir sy uitsprake teen slawerny.
Dinsdag, 13 April 1858, gaan eerw Tyng na sy stoor waar hy besig was om mielies te dors. Die dorsmasjien is deur sy muil aangedryf. Toe Tyng die dier op die rug klop, het die mou van sy baadjie op 'n manier in die ratte van die dorsmasjien verstrengel geraak en sy arm is ernstig beseer. Die arm moes afgesit word en die wond het ongelukkig septies geraak. Tyng is 'n week later oorlede.
Voor sy dood was sy boodskap aan diegene wat saam met hom by die herleweing betrokke was: "Kom, staan op vir Jesus".
As 'n huldeblyk, en na aanleiding van Tyng se laaste boodskap, preek sy vriend George Duffield die Sondag na sy dood uit Efesiërs 6:14. Hy sluit die preek af met 'n gedig. Duffield se Sondagskoolsuperintendent het eksemplare van die gedig laat druk waarvan een in die hande van 'n redakteur van 'n gewilde Baptiste tydskrif beland het. Die redakteur was so beïndruk met die gedig dat hy dit in sy tydskrif wat wyd gelees is, gepubliseer het. Die gedig, "Staan op vir Jesus" is die woorde van die welbekende lied wat ons vandag steeds sing.
Ten spyte van die militêre inslag was wêreldse oorloë nie die skrywer se fokus nie. Sy fokus was op die geloofstryd wat ons as Christene in hierdie wêreld stry. Efesiërs 6 skets vir ons die wapenrusting wat ons benodig vir hierdie stryd. Die Bybel maak dit vir ons duidelik dat ons lewe in Christus is 'n stryd teen elke bose gees. Ons oproep is om sterk te staan in die krag wat Hy voorsien.
Indien jy reeds vir 'n ruk 'n Christen is, sal jy weet dat dit nie altyd maklik is om vir Christus op te staan nie. Dit verg krag en sterkte. En vir ons om op ons pos te bly, moet ons die volle wapenrusting van geloof, geregtigheid en verlossing aantrek. "Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges." (Efesiers 6:17-18)
Sal jy dit doen? Sal jy gedurig bid, getrou wees, op die Here vertrou en vir Jesus opstaan?
Gebed: Here, help my om vir U op te staan, selfs wanneer dit my ongewild maak, wanneer mense my spot en wanneer ek alleen staan. Dankie dat U aan my die wapenrusting gee om op my pos te bly.
Luister gerus hier na die bekende lied: