Uitverkies en geliefd - 13 April 2015
Xanthe Hancox
Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 1 Tessalonisense 1:4-5
Paulus skryf sy brief aan Christene in 'n stad waar hulle onder baie druk verkeer en vir hulle geloof vervolg word. Hy herinner hulle aan 'n baie belangrike feit: God het hulle as sy kinders uitverkies. Hulle verlossing was nie net hulle keuse nie en dit het nie net per toeval gebeur nie. Dit het suiwer deur God se genade gebeur, 'n besluit wat Hy reeds in ewigheid geneem het en beloof om tot in ewigheid te onderhou.
Toe Paulus die gemeente in Tessalonisense begin het, het sy boodskap en bediening inslag gevind as gevolg van die voorbeeld wat hy en sy span gestel het terwyl hulle in dié stad gewoon het. Dit moes 'n versoeking vir hierdie jong Christene gewees het om hulle skouers op te trek en die uitdra van die evangelie aan Paulus-hulle oor te laat, maar hy herinner die gemeente daaraan dat hulle deur hulle daaglikse lewens Jesus moet weerspieël. Beide vir die vroeë Kerk en vir ons, is daar niks soos ons daaglikse roetine om ook aan ander te bewys dat Jesus 'n invloed op ons lewens het nie, of dit nou in ons verhoudings met ons gesin en vriende is, of ons houding teenoor ons werk, of hoe ons probleme hanteer of selfs die alledaagse takies soos om kruideniersware te koop of in die verkeer vas te sit.
Die beste manier om Jesus te weerspieël is deur jou optrede in jou alledaagse lewe. Hoe kan jy meer doelbewus mense bewus maak dat jy deur God uitverkies is en dat Hy jou liefhet en dat Jesus in jou lewe werk?
Gebed: Here dankie dat U my daaraan herinner dat U my liefhet en dat U my uitverkies het. Help my vandag om alles wat ek doen so te doen dat ander U in my kan sien. Amen