Navolgers van Christus - 14 April 2015
Xanthe Hancox
En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom. So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 1 Tessalonisense 1:6-7
Paulus is vol lof vir die gemeente in Tessalonika. Hulle voorbeeld van geloof, hoop en liefde is iets wat ander kan navolg. Ons teksvers vandag noem dat hulle 'n model was vir ander gemeentes. Die Tessalonisense dien op baie gebiede as voorbeeld van dit wat van 'n gemeente van Jesus Christus verwag word.
Eerstens, die Tessalonisense is 'n gemeente want hulle identiteit is in Jesus Christus. Alhoewel hulle werk en diens prysenswaardig is, maak dit nie noodwendig van hulle 'n gemeente nie. Hulle is 'n gemeente want hulle het die evangelieboodskap geglo. En omdat hulle die evangelie aanvaar het, het hulle hul sondes bely en hulle vorige afgodediens laat vaar. Toe hulle na Christus gedraai het vir verlossing, het hulle weggedraai van dit wat hulle voorheen aanbid het.
Skuldbelydenis lei tot navolging van Christus. Hulle het nou ander waardes, keuses en prioriteite – hulle wil nou die voorbeeld van Jesus volg en in sy voetspore volg. Die gemeente in Tessalonika is 'n goeie voorbeeld vir ons om te na te volg want hulle volg die voorbeeld van Christus.
Die Tessalonisense het hulle opdrag van God volkome aangeneem. Hulle geloof het gelei tot diens en 'n entoesiasme om na ander uit te reik; na hulle bekering het hulle God se doel vir hulle met groot entoesiasme aangepak.
Soms is ons 'n bietjie jaloers op mense soos die Tessalonisense. Ons wonder hoekom ons nie groei in ons geloof nie en soos hulle geestelik volwasse word nie. Dit is nogal 'n uitdaging as 'n mens besef dat die Tessalonisense word nie as 'n voorbeeld voorgehou omdat hulle buitengewone, "super geestelike" mense is nie. Indien ons in Christus glo is ons net soos hulle, uitverkies deur God wat ons liefhet en vol van sy Heilige Gees.
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die voorbeeld van die kerk in Tessalonika. Help my om weg te draai van wêreldse dinge en na U te draai. Gee dat mense deur my voorbeeld U kan leer ken. Amen