Die evangelie aan ons toevertrou - 15 April 2015
Xanthe Hancox
Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets. 1 Tessalonisense 2:3-4
Kan jy vertrou word? Nou dit is nie dieselfde as om te vra of jy eerlik is nie. Daar is 'n verskil, alhoewel eerlikheid 'n deel van betroubaarheid is. Daar is eerlike mense wat in sekere omstandighede nie vertrou kan word nie. So byvoorbeeld, alhoewel ek te alle tye probeer om eerlik te wees, kan ek definitief nie as 'n breinchirurg, 'n loods of om die kolfbeurt vir die Proteas te open, vertrou word nie.
Gelukkig word breinchirurgie of om 'n vliegtuig te vlieg nie aan die meeste van ons toevertrou nie en diegene aan wie dit wel toevertrou word, het baie ure studeer en opleiding vir hul taak ondergaan. Die evangelie word egter aan almal van ons as volgelinge van Jesus toevertrou.
Wat maak ons betroubaar sodat die evangelie aan ons toevertrou kan word? Soos Paulus moet ons die moed hê (kyk 2:2) en doen wat God van ons verwag. Dit klink maklik genoeg, maar dink ook hoe moeilik dit soms kan wees. Ons hou daarvan as die skare hulle waardering bewys. Ons wil graag hê dat mense van ons moet hou. Ons haat dit as mense met ons spot of ons aanval. Met die gevolg dat ons soms die wêreld se definisie van sukses dien; geld, posisie en eerbewyse. Soms doen ons wat nodig is om in te pas, selfs as dit beteken dat ons van God en die waarheid moet wegdraai.
Paulus kon vertrou word met die evangelie wat aan hom toevertrou is, want sy bediening het gekom vanuit 'n begrip van sy identiteit in Jesus. Dit beteken dat hy duidelik verstaan het dat hy iemand was aan wie God die verantwoordelikheid en opdrag ge gee het om die evangelie te verkondig aan diegene wat dit nog nie gehoor het nie. Paulus het nie die gunsvan ander mense gesoek of om deur hulle vereer te word nie, want Jesus self het sy behoefte aan veiligheid en aanvaarding beantwoord. Hy het nie sy lewe gespandeer om die guns van mense te wen nie, hy het geleef tot eer van God.
Kan Jesus jou met sy evangelie vertrou? Dit is die belangrikste werk wat jy ooit sal hê.
Gebed: Dankie Here vir die groot voorreg en verantwoordelikheid wat ek het om u evangelie uit te dra. Maak my altyd van dit bewus, en skenk aan my die moed om alles wat ek doen tot u eer te doen. Amen