Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Deel jou lewe - 16 April 2015

Xanthe Hancox

Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos 'n ma wat haar kinders vertroetel. So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.  1 Tessalonisense 2:7(b)-8

In die vorige dagstukkies het ons reeds duidelik gesien dat Paulus heelwat tyd spandeer het om die Tessalonisense aan te moedig om dapper die evangelie met ander te deel. Nou vertel hy hulle dat om 'n Christen te wees, beteken selfs meer as net om ander van Jesus te vertel – ons moet ons lewens met ander deel.

Ons almal glo in die eenheid van God die Vader, Seun en Heilige Gees en dat eenheid die fondament vir die gemeenskap van Christene is. Ons word deur 'n gemeenskaplike geloof en doel met mekaar verenig. Net soos 'n kind sy ma nodig het, so benodig ons mekaar. In sy eerste brief aan die Korintiërs het Paulus reeds hierdie behoefte om aan mekaar te behoort, geïdentifiseer toe hy gesê het: "Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan." (1 Korintiërs 12:27)

Elke keer dat Paulus aan 'n gemeente skryf, noem hy een of twee of drie mense wat by na aan hom is by die naam. Hy het goeie verhoudings met hierdie mense ontwikkel. Paulus het hulle lief gekry. Daar was geen grense tussenPaulus en die Christene wat hy op sy reise ontmoet het nie. Hy het hulle nie na Christus gelei en dan van hulle vergeet nie, hy het sy hart en sy lewe vir hulle geopen.

'n Ma kan nie haar kind borsvoed sonder om 'n deel van haarself met haar kind te deel nie. Vir ons om werklik met mekaar te kan deel, is dit nodig om naby ons geloofsgenote te leef en om mekaar persoonlik te leer ken.  'n Mens kan nie op 'n afstand met mekaar deel nie. Ons moet in mekaar belangstel en aan mekaar verantwoordbaar wees. Ware Christelike "fellowship" verskerp ons geloof en moedig ons aan om in liefde ons geloof uit te leef en goeie werke te doen, alles tot eer van God.

Dit is die hart van die evangelie van God.  Nie net het die apostels die evangelie met mense gedeel nie, maar ook hulle lewens!

Gebed: Here, dankie dat ek as u kind deel kan wees van 'n gemeenskap van broers en susters in Christus. Leer my hoe om my lewe meer betekenisvol met ander te deel. Amen

Previous article: Sy Boodskap - 17 April 2015 Prev Next article: Die evangelie aan ons toevertrou - 15 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.