Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Sy Boodskap - 17 April 2015

Xanthe Hancox

Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys 1 Tessalonisense 2:13

Die Tessalonisense se houding ten opsigte van die boodskap van God maak hulle een van die uitstaande gemeentes van die eerste eeu. Ek dink Paulus beskryf in ons teksvers twee kenmerke van hoe hulle die boodskap van God ontvang en aangeneem het.

Eerstens, het hulle die gesag daarvan erken.

Hulle het dit nie net beskou as Paulus se mening nie, maar hulle het dit aanvaar as die ewige waarheid van God. Hulle het verstaan dat dit 'n boodskap gevul met goddelike waarhede is en hulle het dit aangeneem. Net omdat Paulus hierdie woorde verkondig het, het nie beteken dat dit enigsins verder sou gaan nie.  Maar die Tessalonisense het daarop gereageer. Hulle het dit aangeneem en hulle het dit as die volle waarheid vertrou. Dit is nog waar vir vandag. Jy het miskien die Bybelse boodskap reeds baie kere gehoor, maar as jy dit nie aanvaar as die waarheid vir jou lewe nie, sal dit nie die uitwerking waarvoor dit gestuur is, kan hê nie.

Tweedens het hulle hulle oorgegee aan die verandering wat die Woord meebring.

Wanneer ons die boodskap van God aanvaar, word dit 'n aktiewe krag wat voortdurend in ons lewens werk. Wanneer die Woord in ons lewens werk, is daar gedragsverandering en dra ons vrug. Vir die Woord om ons te verander is dit nodig om die Bybel te lees en te oordink. Ons kan nie groei om meer soos Jesus te word as ons nie meer oor Hom leer nie.

Paulus dank die Here vir die manier hoe die Tessalonisense die boodskap van God aangeneem het – hulle het die Bybel as die waarheid van God aangeneem en in hulle lewens toegepas. Hoe verander die boodskap van God jou lewe? Werk dit in jou lewe of staan jou Bybel net op jou boekrak? Dit kan nie jou lewe verander as dit net stof vergaar nie. Dit kan net ons lewens verander as ons dit lees, die boodskap inneem en die Here vertrou om deur sy Heilige Gees elke deeltjie van ons lewens te verander.

Gebed: Here, dankie vir u boodskap. Dankie vir die wonderlike voorreg om die Bybel in my taal te kan lees. Help my om die waarhede van die Bybelse boodskap te aanvaar en in my lewe toe te pas sodat mense Jesus meer en meer in my lewe sal sien. Amen

Previous article: Dit wat blywend is - 20 April 2015 Prev Next article: Deel jou lewe - 16 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.