Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Korrupsie en omkopery - 15 Mei 2015

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Dit word al hoe moeiliker om eerlik besigheid te doen. Omkopery en korrupsie is besig om die norm in sekere sektore van die ekonomie te word. Die Bybel leer ons dat, alhoewel omkoopgeskenke tydelike wins mag bring, deursigtige transaksies op die lange duur die voortbestaan van besighede en die ekonomie verseker.

In Spreuke 17:8 lees ons: "Vir wie dit gee, het omkoopgeskenke towerkrag; vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan.

Maar …

"Wie hom verryk ten koste van 'n ander, maak dat sy gesin verstoot word; wie omkoopgeskenke weier, sal lewe."  Spreuke 15:27

"Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? [Hy] wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade, sy geld nie op rente uitleen nie en hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie. Wie hom hieraan hou, sal nooit wankel nie."  Psalm 15:1,4b-5

"Dit is nie reg dat mense partydig is en sondig nie, selfs nie ter wille van 'n stukkie kos nie. 'n Inhalige mens wil gou ryk word;  hy besef nie dat daar vir hom gebrek wag nie."  Spreuke 28:21-22

"Afpersing maak van 'n verstandige mens 'n dwaas, 'n omkoopgeskenk vernietig die goeie oordeel."  Prediker 7:7

In 'n land soos Suid-Afrika waar korrupsie en omkopery elke dag in die nuus is, is dit maklik om jou blind te staar teen belangrike mense wat ander omkoop of tenders of kontrakte aan familielede toeken om hulleself te verryk, en dan te begin dink dat dit die norm is. Lees weer die teksverse hier bo en doen vandag jou werk met die wete dat die Bybel ons leer dat God van ons verwag om eerlik besigheid te doen.

Gebed: Hemelse Vader, maak almal in ons land opnuut bewus dat korrupsie en omkopery nie die antwoord tot sukses in die werkplek is nie. Skenk aan ons die wysheid om eerlik sake te doen. Amen

Previous article: Bedrog en kullery - 13 Mei 2015 Prev Next article: Wees eerlik - 11 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.