Bedrog en kullery - 13 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Ons hoor al hoe meer van mense wat geld vra vir dienste wat hulle nie gelewer het nie of vir goedere wat hulle nie voorsien het nie. In die Bybel se tyd het skale, gewigte en inhoudsmate 'n belangrike rol gespeel wanneer pryse vasgestel is. Dit het aanleiding gegee tot die vereiste dat daar eerlik afgeweeg en handel gedryf moet word.
"Jy mag nie met gewigte werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie. Jy mag nie met inhoudsmate werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie. Jy moet billik en regverdig afweeg en afmeet. Dan sal jy lank leef in die land wat deur die Here jou God aan jou gegee word. Die Here jou God het 'n afsku van almal wat oneerlik is en ander bedrieg."
Deuteronomium 25:13-16
"Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg."Spreuke 11:1
"Die wins wat 'n slegte mens maak, hou nie; wie volhou om reg te doen, kry blywende beloning.Die lewe lê voor vir wie by die reg bly, die dood wag vir wie aanhou kwaad doen." Spreuke 11:18-19
"Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here." Levitikus 19:35-37
"Luister hierna, julle wat arm mense vertrap, julle wat die mense in nood in die land wil uitroei. Julle sê: "Wanneer is Nuwemaan verby dat ons koring kan verkoop, of Sabbat, dat ons ons graanwinkels weer kan oopmaak en minder graan vir meer geld kan verkoop? Ons laat die skaal mos kul soos ons wil!" Julle verkoop arm mense vir geld, behoeftiges oor 'n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf. Die Here het 'n eed afgelê by Homself, by Hom wat die trots van Jakob moes gewees het: Ek sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie!" Amos 8:4-7
Reeds in die agtste eeu vC het die profeet Miga dit duidelik gemaak aan die Judese gemeenskap wat vol onreg en geweld was, dat as hulle nie 'n goeie en regte lewe lei nie, God hulle sal straf. Dit geld ook vir ons en definitief ook in ons werkplek.
"Om die Here te dien, dit is wysheid. Die Here roep die stad; luister, leier en julle almal wat aanhou roof: Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra, of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat? Moet Ek die eienaar van 'n onbetroubare weegskaal vryspreek, een met 'n sak vals gewigte? Die stad se ryk mense pleeg geweld, sy inwoners lieg en hulle bedrieg. Daarom het Ek jou begin straf; Ek het jou begin verwoes oor jou sondes. Jy sal eet en nie genoeg kry nie; jy sal honger bly. Jy sal geboortepyne hê, maar nie 'n kind in die wêreld bring nie. En wanneer jy 'n kind in die wêreld bring, gee Ek hom vir die swaard."Miga 6:9-14
Gebed: Here, help ons om U met eerlikheid te dien. Skenk aan ons wysheid en genade om 'n goeie en opregte lewe tot u eer te leef. Amen