Werk vir ware rykdom - 22 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Om geld en besittings te verkry, is vir baie mense die hoofdoel in hulle lewe. Die Bybel sê egter duidelik dat die begeerte na materiële besittings ons lewe kan oorheers as ons nie versigtig is nie. Ons kan nie vir twee base tegelyk werk nie. Ons kan nie God en geld dien nie. Ons moet werk soos God wil hê en so ware rykdom wat blywend is, verkry. Die Bybel noem dit skatte in die hemel. Ons hoef ons nie oor ons daaglikse behoeftes te bekommer as ons God eerste stel in alles wat ons doen nie.
"Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie." Matteus 6:24
"Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees." Matteus 6:19-21
"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: 'Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?' nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." Matteus 6:31-33
Die Bybel sê egter nie dat dit verkeerd is om aardse rykdom te hê nie, maar kyk wat leer koning Salomo, een van die rykste mense van sy tyd, ons oor aardse rykdom.
"Probeer liewer wysheid bekom as goud, liewer insig as silwer." Spreuke 16:16
"Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer 'n groter opbrengs as goud. Dit het meer waarde as edelstene; wat jy ook al as kosbaar beskou, niks kan daarmee vergelyk word nie." Spreuke 3:13-15
Onthou om jou nie vandag so te bekommer oor sake by jou werk dat jy vergeet om jou eers vir die koninkryk van God te beywer nie.
Gebed: Hemelse Vader, help ons om te onthou dat U altyd eerste in ons lewens moet kom. Gee aan ons die wysheid en insig om so te werk dat alles wat ons doen tot verheerliking van u Naam sal wees. Amen