Kom in en deel in my vreugde! - 25 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Die afgelope weke het ons gekyk na riglyne in die Bybel oor hoe om met integriteit te leef, met ander woorde soos God wil hê ons moet leef. Die Bybel het iets om te sê oor hoe ons God se seën in elke aspek van ons lewe kan ervaar. Ons het tien riglyne ontdek wat ons kan volg om ons daaglikse werk só te doen dat ons God tevrede stel en ook seker kan wees van sy seën: Vertrou op God; werk hard; wees eerlik; wees tevrede; bou goeie verhoudings; rus gereeld; dien God met jou inkomste; aanvaar jou sosiale verantwoordelikheid; betaal jou belasting en werk vir ware rykdom.
Dit maak nie saak wie ons is of watter posisie ons beklee nie, die Bybel leer dat ons ons allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God moet beywer en dat ons eerder vir ons skatte in die hemel bymekaar moet maak. Die ewige lewe is die ware skat.
"Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry." 1 Timoteus 6:17-19
Die Bybel verseker ons ook dat daar altyd Iemand is wat vir ons sorg.
"Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle." 1 Petrus 5:7
"Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees." Filippense 4:6-9
Mag die Here jou ryklik seën terwyl jy daarna strewe om Hom te eer, ongeag van die posisie wat jy beklee of die werk wat jy doen. Mag jy ook, soos die getroue slawe in die gelykenis wat Jesus vertel het, die vreugde beleef om die Eienaar die volgende woorde te hoor sê:
"Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!" Matteus 25:21
Gebed: Here, dankie vir die vir die voorreg om 'n werk te hê. Help my om my daaglikse werk tot eer van U te doen. Help my om dit wat ek die afgelope weke uit u Woord geleer het, elke dag in my lewe toe te pas. Amen