Dag 2: Vreesloos vorentoe: Waarom om nié te vrees nie! - 2 Junie 2015
Deur Benescke Janse van Rensburg
In die vroeë oggendure van 2 Mei 2011 het ’n spesiale eenheid van die Amerikaanse vloot, bekend as Team 6, die wegkruipplek van terroristeleier, Osama Bin Laden in Abbotttabad, Pakistan per helikopter bereik. ’n Haarfynbeplande aanval is uitgevoer en veertig minute later het die span die perseel met Bin Laden se lyk in ’n sak verlaat.
Vir ’n dekade lank is elke moontlike leidraad om Bin Laden op te spoor opgevolg en rolspelers naby aan hom gearresteer en ondervra. Die deurbraak het egter in Augustus 2010 gekom toe ’n telefoonoproep van een van Bin Laden se boodskappers onderskep is. Die boodskapper se selfoonsein is gevolg wat die wegkruipplek van Bin Laden openbaar het. Hierna is moderne tegnologie ingespan om die wegkruipplek dop te hou. ’n Identiese afbeelding hiervan is in Amerika gebou waarop Team 6 vir die beplande aanval geoefen het. Toe die tyd gereed was, is die aanval geloods. Berekend. Strategies. Suksesvol.
Satan is ons vyand. Net soos die Amerikaners Bin Laden se wegkruipplek dopgehou het, hou die vyand ons ook dop. In Johannes 10:10 lees ons: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes . . .” Satan se aanvalle op ons lewens is ook strategies en fyn beplan. Hy wil ons tref waar dit die meeste sal seermaak in die hoop dat ons God sal blameer.
Job is immers ’n sprekende voorbeeld hiervan. Hy het ’n mooi huis gehad, ’n klomp besittings, ’n string kinders en boonop ’n wonderlike verhouding met God. Satan het niks daarvan gehou nie. Wat hom veral frustreer het, was dat sy aanvalle op Job nie gewerk het nie, omdat God ’n muur van beskerming rondom hom, sy familie en ook sy besittings geplaas het (Job 1:10, 1953-hersiening). Daar was egter een swak punt: Job het gevrees dat sy familie of besittings iets sou oorkom. Job moes daaroor gepraat het, want toe Satan ’n geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy hom geslaan waar dit hom die seerste sou maak. In Job 3:25 lees ons Job se woorde nadat hy alles verloor het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”
Watter vrese koester jy in jou lewe? Is jy uitermate bang dat jou kinders iets sal oorkom of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou sal wees? Of dalk dat jy en jou gesin in ’n motorongeluk betrokke gaan wees of dat jou besigheid bankrot verklaar gaan word? Besef jy dat die vyand sy ore spits? In 2 Timoteus 1:7 lees ons: “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Ook in die tweede gedeelte van Johannes 10:10 sê Jesus self dat Hy gekom het sodat ons ’n lewe in oorvloed kan hê.
Wanneer ons toelaat dat vrees in ons lewens groter word as ons geloof in God, word ons ’n maklike teiken vir die vyand. Behou dus jou fokus deur jouself (en die vyand) te herinner dat God die laaste sê in elke situasie het. En wanneer Hy ’n muur van beskerming rondom jou geliefdes en besittings plaas, kan geen brandpyle van die vyand jou raak nie.
Vader God, baie dankie dat ek kan bid dat U ook my en my gesin met ’n muur van vuur sal beskerm. Lei my asseblief daagliks om nie vreesagtig te wees nie, maar te besef dat U vir my ’n gees gee van liefde, krag en selfbeheersing. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na