Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 3: Vreesloos vorentoe – met vrede in jou hart - 3 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Het jy al ’n baksteenhuis met stene sonder sement probeer bou? Of ’n koek sonder bakpoeier probeer bak? Die bakstene vir die huis kan opmekaar gestapel word, maar sonder sement sal dit, sodra iemand daarteen stamp, inmekaartuimel. Net so kan jy al die regte bestanddele bymekaar gooi om die koek te bak, maar sonder bakpoeier, gaan die koek nie rys nie en daarom ’n mislukking wees.

In ons lewens kan vrede met die sement of bakpoeier vergelyk word. Sonder vrede word ons oneffektief in ons dagtaak. Buiten dat dit konstant voel of iets of iemand ons jaag, is ons makliker ongeduldig met diegene die naaste aan ons terwyl ons sukkel om goeie besluite te neem omdat ons nie perspektief het nie. Net soos die bakstene inmekaar stort en die koek flop sonder sement en bakpoeier, sal dinge in ons lewens ook inmekaarstort en misluk as die vrede nie betyds herstel word nie.

Hoe verloor ons vrede? Dit gebeur maklik. Byvoorbeeld, ’n stadige bestuurder voor jou in die verkeer, swak diens wanneer jy haastig is of ’n onbeskofte kollega by die werk. As mens nie hierdie strikke wat die vyand stel betyds raaksien nie, sal dit jou gou onderkry. Nog ’n manier om jou vrede te verloor, is wanneer jy begin tob oor ’n krisis of uitdaging in jou lewe waaraan jy niks kan doen nie en dan die ergste verwag. 

Hoe kry ons vrede terug? Paulus skryf in Filippense 4:6–7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” In Numeri 6:26 lees ons: “Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.” En in 2 Tessalonisense 3:16 lees ons: “Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee.”

Ervaar jy vrede in jou hart of sit jy met ’n onverklaarbare hol kol op jou maag of ’n irritasie wat net nie wil verdwyn nie? Kry die bakpoeier en sement in plek deur vrede ’n prioriteit in jou lewe te maak. Gesels met God oor jou bekommernisse en vra Hom om dit weg te neem terwyl Hy jou hart kom vul met daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek kan jou waarborg jy gaan met ’n baie rustiger hart deur die dag gaan! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek elke krisis in my lewe voor U kan bring omdat U sê dat ons alle bekommernisse op U kan werp. Vul asseblief my hart en lewe met vrede. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 4: Vreesloos vorentoe: Met vreugde in jou hart - 4 Junie 2015 Prev Next article: Dag 2: Vreesloos vorentoe: Waarom om nié te vrees nie! - 2 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.