Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 14 Oktober

9. Maak plek vir die koninkryk in jou huwelik?

Hennie Symington

Skriflesing

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Efes. 5:2

Daar staan in die Skrif: “Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” Efes. 5:31

Hoe gelukkig is jou huwelik?

ʼn Baie siniese ou het eenkeer gesê: Dit moet verskriklik wees om ongelukkig getroud te wees, want hy’s gelukkig getroud en dis hel! Die hartseer is dat huwelike vandag (seker maar in die verlede ook) in baie opsigte hel in plaas van ʼn stukkie hemel op aarde is. Ons vergeet so maklik dat ons huwelike ook val binne die grense van God se koninkryk.

Hoekom is huwelike dikwels so ongelukkig? Ons trou tog sekerlik omdat ons geglo het dat ons op ons gelukkigse kan wees met die een wat ons uitgekies het en nie met die gedagte om die res van jou lewe net half gelukkig te wees nie? Hoekom val soveel huwelike dan in die kategorie van half-gelukkig? Miskien omdat ons beter na ons motors as na ons huwelike omsien of omdat ons eerder tuinmaak as om ons huwelikstuintjie te versorg. Hoekom doen ons ons so in wanneer dit kom by die huwelik?

Wat is die geheim van ʼn goeie huwelik!

Dis geen geheim nie - as jy jou gesonde verstand gebruik en ʼn bietjie bedagsaamheid aan die dag lê, kan dit heel plesierig wees. Onthou net die volgende:

*        Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk. As jy nie met jouself kan saamleef nie, gaan geen man of vrou jou gelukkig maak nie. (Jy gaan eerder die ander een ook ongelukkig maak met jou onplesierigheid).

*        Iemand moet die hoof van die gesin wees en volgens Bybelse riglyne is dit gewoonlik die man. Daar is egter niks mee verkeerd as die leierskap wissel afhangende van elkeen se bekwaamheid nie. As die vrou goed is met die geldsake, laat sy dit hanteer. As pa daarvan hou sy slag in die kombuis te wys, aanvaar dit. As die een siek is, neem die ander een die leiding oor.

*        Aanvaar jou weder- of beter helfte met dankbaarheid bewaar hom of haar soos goud omdat hy of sy aan jou toevertrou is.

*        Wees jouself maar hou jou slegte kant vir jouself. Die Bybel sê uitdruklik ons moet mekaar mooi maak vir Christus. Begin dus om jou altyd geestelik en liggaamlik mooi te hou vir jou maat. Dan is jy nie net ʼn plesier vir jou maat nie, maar vir ook vir jouself.

Onthou, die liefde bedek ʼn magdom sondes (1 Pet. 4:8). Doen vandag iets aan die middelmatigheid van jou huwelik. Slaan vandag ʼn nuwe rigting in deur klein dade van liefde en sorg te verrig. Kyk met ander oë na jou maat want more kan dalk te laat wees.

Ns.As jy ernstige probleme in jou huwelik ervaar, gaan praat met kundiges wat jou met raad kan bystaan. Dis nie iets wat ʼn mens op die net kan uitsorteer nie. (FAMSA kan help)

Here ek is dikwels so onvergenoegd met my huweliksmaat. Help my om met nuwe oë na my maat te kyk en my huwelik te kyk. Amen

Previous article: Vers n dag - 15 Oktober Prev Next article: Vers n dag - 13 Oktober Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.