Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 4: Vreesloos vorentoe: Met vreugde in jou hart - 4 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Blik spinasie. Dít is wat die animasieheld, Popeye, benodig om binne ’n paar sekondes van ’n gewone matroos in ’n man met ’n be­sondere sterk voorarm te verander wat sy vyande op die vlug laat slaan. Dit is dus te verstane dat ’n vyand wat Popeye wil aanval sal seker maak dat daar geen spinasie in die omtrek is nie. 

Vreugde in ons lewens is dieselfde as die spinasie vir Popeye. Dit is ons krag wat ons ook help om perspektief te behou selfs in die mees uitdagende situasies. Dit herinner ons dat God almagtig is en ook in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Rom 8:28).

In Nehemia 8 maan Ne­hemia die terneergedrukte Israeliete om nie hul vreugde te verloor nie: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here – dit is julle beskutting”(Nehemia 8:10). In die Engelse vertaling lees ons dat die vreugde wat ons in God vind ons krag is. Wanneer ons dus ons vreugde verloor, word ons nie net kragteloos nie; ons beweeg ook uit onder die beskutting van God wat ons ’n oop teiken vir die vyand maak. 

Hoe steel die vyand ons vreugde? Satan ken ons swak punte en val ons dáárop aan. Hy wil ons bekommerd en vreesagtig maak en ons laat glo dat die slegste op pad is. As jy byvoorbeeld iemand is wat sukkel met ’n minderwaardig­heidskompleks, sal hy jou laat glo dat jou kollegas wat in ’n kring staan en gesels en lag oor jou skinder – terwyl hulle dalk nie eens oor jou praat nie. Of jy slaan die koerant oop en lees van grondhervorming, korrupsie of moord en meteens bekommer jy jou dood oor jou eie en jou kinders se toekoms in ons land. Of jy voel siek en die dokters stuur jou vir toetse. Nog voor die uitslae gekom het, verwag jy die ergste en deel jou vrese met almal om jou terwyl dit groter word en die vreugde in jou lewe al minder.

Hoe herstel ons die vreugde? In 1 Tessalonisense 5:16 lees ons: “Wees altyd bly.” Vreugde is ’n keuse en nie ’n gevoel nie. Ons moet dus daagliks kies om gelukkig te wees. Hoe doen ons dit te midde van ’n donker situasie? Ons begin doelbewus soek na dinge waarvoor ons steeds dankbaar kan wees en ons begin God daarvoor dank. Nog ’n manier is om God se karaktereienskappe neer te skryf en dit te oordink. Só word ons opnuut bewus van sy almag en vermoë om vir ons ’n deurbraak uit ons krisis te bewerkstellig om soos die Psalmdigter in Psalm 118:24 te kan sê: “Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.” 

Hoe lyk die vreugdevlakke in jou hart vandag? Kom ons tel die blik spinasie op deur vreugde wat ons in God vind ’n prioriteit in ons lewens te maak. Hiermee klim ons nie net terug onder die beskutting van God nie; ons kry ook ’n voorarm soos Popeye s’n waarmee ons die vyand ’n oorveeg kan gee wanneer hy weer naby aan ons probeer kom om ons leed aan te doen. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U die bron van my vreugde is. Help my asseblief om te midde van moeilike situasies perspektief te behou met die wete dat U in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat U liefhet. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 5: Vreesloos Vorentoe omdat God voorsien - 5 Junie 2015 Prev Next article: Dag 3: Vreesloos vorentoe – met vrede in jou hart - 3 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.