Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 5: Vreesloos Vorentoe omdat God voorsien - 5 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit was ’n gewone uitsaaidag vir my as radio-omroeper by Tygerberg 104FM toe ek die SMS van Johanna op die ateljee se SMS-lyn lees. Johanna, ’n enkelma wat op ’n plaas langs die N2 buite Kaapstad werk, het vertel dat haar seun, Jason goed in rugby presteer. Die uitdaging was egter dat sy rugbytoks te klein was en dat sy nie nuwes vir hom kon bekostig nie. Dít terwyl die rugbyproewe vinnig nader gekom het. Johanna het vertel dat dit haar hart breek om te sien hoe haar seun by die huis sit omdat hy te skaam is om vir iemand te sê waarom hy nie ook soos die ander seuns vir die proewe voorberei nie. Ek het die SMS met die luisteraars gedeel en gou was daar heelwat mense wat ’n bydrae wou lewer sodat ons vir Jason nuwe rugbytoks kon koop. 

Ek het vir Johanna en Jason na die ateljee genooi vir die oorhandiging. In die regstreekse onderhoud het ek vir Johanna gevra om my en die luisteraars van die dag te vertel wat sy die SMS ingestuur het. Ons het nie tyd gehad om vooraf hieroor te gesels nie, so alles wat sy vertel het, was vir my ook nuus. 

Johanna het vertel dat sy daardie oggend in die badkamer gestaan het. Uit moedeloosheid het trane oor haar wange gestroom. Hoe sou sy haar seun kon help? Dáár in die badkamer het sy op haar knieë neergegaan en vir God gevra om vir hulle te voorsien. Meteens het sy ’n visie voor haar gesien van swart, wit en rooi rugbytoks. Sy het instinktief geweet dat dit ’n manier van God was om haar te herinner dat Hy vir hulle sal voorsien. Sy het Hom gedank, haar gesig gewas en die badkamer verlaat. In haar hart het sy ’n dringendheid ervaar om aan ons ’n SMS te stuur. Sy het. 

In die ateljee het ek afgebuk na die sak vol geskenke vir Jason. ’n Waterbottel, ’n splinternuwe rugbybal, ’n sportsak en dan die boks met nuwe rugbytoks. Toe Jason dit oopmaak het in die boks sy droomstewels gelê – soos in die visie was die toks rooi, wit en swart. Ons het dit nie geweet nie, maar God het en Hy het ons gelei om sy goedheid en guns opnuut op dié manier aan ’n jong seun te openbaar. 

In Psalm 24:1 herinner die Psalmdigter ons dat alles in die wêreld aan God behoort. Hy kan dus aan ons gee wat ons benodig wanneer ons dit benodig. Dit is dus te verstane dat Jesus in Lukas 12:24 ook sê: “Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.” God kan en wil vir ons voorsien – en ons ook kom verras met iets vêr beter as wat ons kan bid of dink. In Efesiërs 3:20-21 lees ons immers: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe . . .”

Wat is jou behoefte vandag? ’n Baba? ’n Huweliksmaat? Genoeg geld om jou rekeninge te betaal? ’n Werksgeleentheid? Of dalk ook iets soos rugbytoks? Gesels met God daaroor en los dit dan daar terwyl jy Hom by voorbaat begin dank. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Wil jy Hom nie ook ’n kans gee om dit aan jou te bewys nie? Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat U my diepste hartsbegeertes ken. Ek vra U vandag om asseblief vir my te voorsien (noem die area). Dankie, dat ek dit voor U kan neerlê en nie verder bekommerd hoef te wees nie. Ek bid hierdie gebed in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • Sien foto’s van Johanna en Jason by www.benescke.co.za of op die sosiale netwerk, Fbook se Stories van Hoop bladsy.

  • Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 6: Vreesloos vorentoe deur God deel van jou planne te maak - 8 Junie 2015 Prev Next article: Dag 4: Vreesloos vorentoe: Met vreugde in jou hart - 4 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.