Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 6: Vreesloos vorentoe deur God deel van jou planne te maak - 8 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ons 2-jarige dogtertjie gaan tans deur die “ek sal self”-fase. Self aantrek. Self eet. Self by trappe afstap. Selfs self oor die pad stap. Laat ek haar toe om dit te doen? Natuurlik nie as dit haar lewe in gevaar kan stel nie. Tog, om ’n groot tranedal aan die een kant te vermy en vir haar ’n leergeleentheid aan die ander kant te skep, het ek geleer om soms terug te staan en haar toe te laat om eers “self” te probeer - al weet ek ook dat sy my hulp heel moontlik gaan inroep. 

In ons lewens as volwassenes gaan ons ook soms deur hierdie “ek sal self”-fase. Ons verklaar dit dalk nie soos my 2-jarige met ons woorde nie, maar wel met ons dade wanneer ons nalaat om God deel van ons lewens te maak. Ons dink byvoorbeeld ons kan self die krisis in die werkplek, in ons huwelik of met ’n kind uitsorteer – omdat ons dit in die verlede gedoen het. Of ons dink ons kan self loskom uit ons finansiële verknorsing – omdat ons vriende met kennis het wat ons kan help. Of ons dink ons kan self besluit of die persoon met wie ons in ’n verhouding is ons huweliksmaat is. Alhoewel God ons maklik en vinnig uit situasies kan help deur ons met wysheid te lei, staan Hy ook soms terug as ons Hom nie deel van ons planne maak nie. Ons lees immers in Jakobus 4:2b: “ . . . julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Wanneer ons vasbrand besef ons opnuut ons afhanklikheid van Hom.

Om onsself dus van geweldig baie frustrasie en seer te spaar en God se beste vir ons lewens te beleef, sal ek voorstel dat ons God deel maak van elke faset van ons lewens. In Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” In Mattheus 7:7 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word. . .” En in Jeremia 33:3 sê God: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord . . .”

Soek jy God se koninkryk eerste deur Hom deel te maak van jou planne in die werkplek of by die huis of sê jy steeds met jou optrede soos my dogtertjie “ek sal self”? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in die Woord beloof om my met wysheid te lei wanneer ek dit kortkom en ook om my paaie gelyk te maak. Ek vra dat U my asseblief daagliks deur u Heilige Gees sal lei. Ek wil hê dat U deel van my lewe en toekoms moet wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 7: Vreesloos vorentoe deur die stormwind - 9 Junie 2015 Prev Next article: Dag 5: Vreesloos Vorentoe omdat God voorsien - 5 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.