Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 7: Vreesloos vorentoe deur die stormwind - 9 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit was laatnag. Stikdonker op die See van Galilea. Ure vantevore het die dissipels beleef hoe Jesus vyf broodjies en twee vissies vermeerder het om vir vyfduisend mense kos te gee. Hulle was verstom. Nóg een van sy wonderwerke. Jesus het hulle met die skuit vooruit gestuur, terwyl Hy alleen op die berg gaan bid het.

Hier op die see was die wind stormagtig met golwe wat bruisend teen die skuit breek. Nie een van die dissipels kon slaap nie. Deur die miswolke wat onheilspellend laag oor die water hang, het hulle meteens die man opgemerk wat bo-op die water na hulle aangestap kom. Vrees het hulle oorweldig en hulle het soos een man histeries begin skree. Was dit ’n spook? Sou hulle hier omkom? Die skok was egter nog groter toe ’n bekende stem uit die mis na hulle roep: “Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.” Dit was Jesus.

Petrus het eerste gewaag om terug te antwoord. “Here, as dit werklik U is, beveel my om op die water na U te kom.” Jesus het. Met oë gevestig op Hom, het Petrus versigtig uit die skuit geklim en die eerste paar tree gegee – sonder om te sink. Dit is egter toe Petrus vir ’n oomblik sy oë van Jesus afhaal en die stormagtige wind en bruisende golwe rondom hom raaksien, dat vrees die plek van geloof ingeneem het. In daardie oomblik het hy begin sink. Jesus het sy hand na Petrus uitgesteek en hom opgetrek terwyl hy vra: “Petrus, hoekom het jy begin twyfel?” Hulle het in die skuit geklim en die wind het gaan lê.

Soms het ons ook nodig om in geloof die skuit te verlaat om op die water te stap wanneer ons byvoorbeeld moeilike besluite in die werkplek, huisgesin of ten opsigte van ons finansies of toekoms moet neem. Dalk stap jy tans op die water, maar jy beleef een storm na die ander wat jou wil verswelg. Onthou, onseker moeilike situasies bring ons op ’n punt waar ons God se grootheid kan beleef. Dit toets ons karakter en skep ’n geleentheid vir God om sy karakter en grootheid aan ons te demonstreer. In Jeremia 32:27 praat God immers self: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” Ook in Lukas 1:37 sê Jesus: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

Dalk het jy in die verlede jou oë op Jesus gehou en op die water gestap, maar tans sukkel jy om vrees uit jou hart te hou. Dít veroorsaak dat jy ook soos Petrus wil-wil sink. Toe Petrus begin sink en na Jesus uitroep, het Hy hom dadelik gegryp en op die skuit gehelp terwyl die storm bedaar. Hy kan dieselfde vir jou ook doen. Sy hand is reeds na jou uitgesteek. Gryp dit en hou jou oë op Hom. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my lewe voor U kan neerlê. Lei my asseblief te midde van die storms wat om my woed om my oë gevestig op U te hou met die wete dat U die storm binne ’n sekonde kan stilmaak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 8: Vreesloos vorentoe deur die struikelblokke - 10 Junie 2015 Prev Next article: Dag 6: Vreesloos vorentoe deur God deel van jou planne te maak - 8 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.