Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 8: Vreesloos vorentoe deur die struikelblokke - 10 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Jare gelede het ’n wyse koning besluit om die opregtheid van die burgers van sy ryk te toets. Hy het vroegoggend ’n groot klip tot in die middel van die pad gerol en toe self agter ’n rots gaan skuil om te sien wie die klip vir ander reisigers uit die pad sou rol.

Soos die koning gedink het, het van die rykste en mees vooraanstaande burgers van sy ryk bloot rondom die klip geloop. Van hulle het selfs die koning luidkeels gekritiseer oor die klip wat in die middel van die pad lê omdat hulle gevoel het dat dit sy verantwoordelikheid was om te sorg dat dit nie daar lê nie. Niemand het egter probeer om die klip te skuif nie. 

Teen laatmiddag het ’n arm kleinboer met sy stootkarretjie by die klip verby gekom. Hy het dadelik gestop en vir die volgende uur geswoeg en gesweet om die klip uit die pad te rol. Om sy asem terug te kry, het hy vir ’n oomblik teen die wiel van sy karretjie geleun en teruggekyk na die holte waar die klip voorheen in die pad gelê het. Meteens het hy ’n sakkie daarin opgemerk. Hy het nuuskierig nadergestap, dit opgetel en oopgemaak. Dit was propvol goue muntstukke met ’n nota daaraan vasgesteek van die koning: “Dié muntstukke behoort aan die persoon wat die klip uit die pad gerol het.”

In ons lewens is daar ook van tyd tot tyd klippe in die pad. En soos die koning agter die rots geskuil het en die mense dopgehou het, hou God ons ook dop. In Psalm 33:13 lees ons immers: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.” Hy gebruik soms struikelblokke om ons karakter te toets. In Jakobus 1:2-3 lees ons: “My vriende, daar gebeur partymaal met julle verskeie soorte slegte dinge wat vir julle toets. Die dinge wil vir julle laat ophou om God te dien. Julle moet baie bly wees wanneer dit gebeur, want julle weet dat wanneer hierdie dinge julle geloof so toets, dan help dit julle om aan te hou glo. . .” (Bybel vir Almal).

Sit jy tans in ’n situasie waar ’n struikelblok soos die klip in die pad voor jou lê? Dalk is dit in die vorm van ’n uitdaging in die werkplek, jou huwelik, jou gesondheid, ’n uitdaging met een van jou kinders of dalk met jou skoonfamilie? Of dalk het jy aansoek gedoen vir ’n bepaalde pos, maar iemand met heelwat minder ervaring as jy, is daarin aangestel? Of dalk het iemand skinderstorie oor jou versprei waaraan jy niks kan doen nie? Wat is jou reaksie te midde van hierdie uitdagende situasies? Verwyt jy mense – en selfs vir God? Of slaag jy die karaktertoets deur jou geloof in Hom te behou?

Abraham en Josef het beide ook eens deur uitdagende situasies gegaan waarin hulle net op God kon vertrou. Te midde van hul krisisse, het God hulle karakters getoets. Beide het die toets geslaag en God het vir Abraham ’n vader van nasies gemaak en vir Josef binne ’n dag van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder.

Elke struikelblok is potensieel ’n geleentheid om ons huidige situasies te verbeter. Dít is wat die arm boer daardie dag langs die pad beleef het. Kom ons slaag die toets. Die beloning aan die ander kant mag dalk ook ons asems wegslaan. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat ek vir U belangrik is. Help my asseblief om nie mismoedig of gefrustreerd te raak met die struikelblokke in my lewe nie, maar dit eerder te sien as geleenthede om U beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 9: Vreesloos Vorentoe ... omdat jy jou eindbestemming ken - 11 Junie 2015 Prev Next article: Dag 7: Vreesloos vorentoe deur die stormwind - 9 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.