Vers-n-dag - 9 Julie 2015
Ek hou van God, omdat Hy my ken soos niemand anders nie
Danny Fourie
Maar Hy het hulle gedagtes geken … Lukas 11:17
Ek was eenkeer in 'n erediens waar die dominee aan ons gevra het: “Stel jou voor dat die persoon wat langs jou sit presies weet wat jy die afgelope week gedink, gesê en gedoen het.” Daar het ’n stilte in die kerk gekom en net die gedagte dat diegene wat langs ons sit, weet wat ons die afgelope week alles aangevang het, het ’n mens na 'n glas koue water laat smag.
Gelukkig het ek na ’n paar oomblikke beter gevoel. Die feit dat niemand in die kerk weet wat ek die afgelope week gedink, gesê en gedoen het nie, het my gerus gestel. Ek was verlig, selfs my buurman weet nie.
God daarenteen weet alles wat ons doen. Soos wat die kameras van die TV-program “Big Brother” alles registreer wat in die Big Brother-huis gebeur, gaan niks in my lewe God se aandag verby nie. Tog sit God nie alles wat Hy van my weet bymekaar om my af te skryf en te vergeet nie. God draai nie sy rug op my toe Hy my nou eintlik beter leer ken het nie. Inteendeel. God bly steeds sy liefde aan my verklaar. Juis Hy wat my die beste ken, hou die meeste van my. Dit is die grootste wonder wat ek my kan voorstel.
God hou nie maar van my omdat Hy my positiewe kante ken nie. Die liefde van God is nie blind nie. Hy ken al die vuiligheid en donker kante van my. Maar niks hiervan weerhou Hom om van my te hou nie. Voor Hom hoef ek my nie meer vernaam te hou nie, my beste voet voor te sit nie. Hy hou in elk geval van my. Voor God hoef ek my nie beter voor te doen as wat ek is nie.
Hy weet wie ek is, wie ek werklik is.
Gebed:Dankie Here dat U my liefhet al weet U wie ek werklik is, en wat ek dink en sê en doen. U is wonderlik genadig. Amen.