Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 10 Julie 2015

Ek hou van God, omdat Hy nie dink ek is sleg nie

Danny Fourie

Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies  Lukas 12:6-7

Die feit dat God ons beter ken as wat ons onsself ken, maak dat baie mense nie sommer hul lewe in God se hand wil plaas nie. Want, sê hulle, ’n God wat ons deur en deur ken, kan tog onmoontlik van ons hou. Vreemd soos dit mag klink, is dit juis die feit dat God alles van ons weet, wat baie mense daarvan weerhou om ’n definitiewe keuse vir Hom te maak.

Ek het iemand geken, kom ons noem haar Lila, wat heelwat gedrink en sagte dwelmmiddels gebruik het. Sy was met slegte vriende deurmekaar, maar diep in haar hart het sy geweet sy is op 'n rampspoedige pad. Sy wou graag vir God kies, maar het gedink dat God haar nog nie sal aanvaar nie. Nog nie. Hy weet dat sy nog te veel drink en zolle rook. Sy is ’n te slegte mens om ’n kind van God te word.

Indien Lila reg sou wees, kon Jesus net so wel by sy Vader in die hemel gebly het. Gelukkig was Lila nie reg nie. God wou haar as sy kind aanneem ten spyte van drank en dwelms en verkeerde vriende. Jesus het nie na die aarde gekom vir diegene wat sonder sonde en gebreke is nie. Daar bestaan geen mens wat sonder sonde is nie.

Miskien onthou jy hoe ons gespeel het deur 'n veldblommetjie te vat en dan die blaartjies om die blom af te trek. Met die een blaartjie sê jy, “Sy het my lief” en met die volgende blaartjie, “Sy het my nie lief nie”. So herhaal jy dit totdat al die blommetjies van die blaar afgetrek is en soek 'n nuwe blommetjie indien die vorige een geëindig het met “Sy het my nie lief nie”.

God speel nooit so ’n speletjie met my en jou nie. Daarom op my beurt, hou ek dus weer van God.

Gebed: Dankie Here dat U my liefhet ten spyte van wie ek is. Dankie dat U my aangeneem het as u kind juis omdat ek vol sonde en gebreke is. Amen.

Previous article: Vers-n-dag - 13 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 9 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.