Vers-n-dag - 13 Julie 2015
Ek hou van God omdat Hy deur Jesus na my kyk
Danny Fourie
… aan die heiliges wat in Éfese is, en die gelowiges in Christus Jesus … Efesiërs 1:1(1953-vertaling).
Ons het die gesgde dat die appel nie ver van die boom val nie. Soms gebeur dit dat 'n seun baie op sy pa trek, dieselfde stem, dieselfde hande en dieselfde persoonlikheid. Phil Collins sing op sy album, Both sides dat ons almal “sons of our fathers” is. Dit is werklik so.
Wanneer jy na jou vriende kyk, kan jy in sommige gevalle duidelik die ooreenkomste tussen pa’s en seuns sien, uiterlik so wel as karaktereienskappe. Pa sosiaal. Seun sosiaal. Pa teruggetrokke. Seun teruggetrokke. Pa 'n denker. Seun 'n denker.
Verlede week het ons gehoor dat God ons reeds van voor ons geboorte af liefhet, toe ons nog sondaars was. Ja, was. Want ons is nou nie meer sondaars nie. Toe ons kinders van God geword het, toe ons Jesus in geloof aangeneem het en geglo het dat Hy vir ons sonde gesterf het, is ons in Christus God se kinders (Efesiërs 1:4).
Hierdie woorde “in Christus” kan miskien 'n moeilike teologiese begrip wees, maar in werklikheid is dit 'n mooi geskenk van God aan ons. Jesus het nie net aan die kruis vir ons sonde gesterf nie, Hy het ook uit die dood opgestaan. Ons het “in Hom” saam met Hom gesterf en “in Hom” is ons saam met Hom begrawe en het ons saam met Hom opgestaan.
Maar wat wil hierdie “in Hom” nou eintlik sê? Ons ou mens, die sondige mens, het “in Christus” gesterf. Ons het “in Christus” saam met Hom as nuwe mense opgestaan. Wanneer God na ons kyk, kyk Hy in werklikheid deur Christus na ons. Hy sien ons in Christus.
Wanneer jy deur 'n bril met rooi lense kyk, sal 'n boom 'n rooi skynsel hê, die groen bus in die straat sal rooi word en die wolklose lug sal ook rooi wees. Dit is hoe die wêreld deur 'n rooi bril lyk. Dit is ook hoe God na ons deur Jesus kyk.
Vir God lyk ons soos Christus. Ons is “sons of our Father”, met 'n hoofletter, en ons lyk boonop na Hom!
Gebed:Dankie Vader dat wanneer U na my kyk, sien U eintlik vir Christus. Dankie dat U deur Jesus na my kyk en dat ek na Hom lyk. Amen