Vers-n-dag - 14 Julie 2015
Ek hou van God want Hy sê ek is heilig
Danny Fourie
Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. Romeine 5:19
Dit neem 'n tyd voordat 'n mens hierdie verrassende feit enigsins begin te begryp. Want wat sê dit nou eintlik dat God al sy kinders “in Christus” sien? Na hulle kyk “deur Jesus”? Sou dit werklik beteken dat ons nie meer vir God sondaars is nie, maar heilig!? Kan jy jou iets minder ongeloofwaardig voorstel dat ons heiliges is?
Onthou jy hoe ek gesweet het toe die dominee ons gevra het om ons elkeen te verbeel dat almal in die kerk weet wat ons daardie afgelope week gesê en gedoen het? Laat ek maar eerlik wees, dit was beslis nie die lewe van 'n heilige wat hulle sou gesien het nie.
Tog is ek blykbaar wel 'n heilige. Wel in God se oë. En wie is ek om God wat my gemaak het, teen te gaan? God leef al van voordat ek en jy bestaan. Wanneer God sê dat ek in Christus heilig is, dan is ek heilig. Of ek dit nou begryp of nie.
Dit is nie ongewoon om jouself in jou pa te herken wanneer verskeie mense jou daarop wys nie. Wanneer jy dit dikwels sien, begin jy dit self raaksien. So is dit ook met ons hemelse Vader. Met die eerste oogopslag is daar maar min ooreenkomste. God is heilig. Ek is 'n sondaar. God is liefde. Ek dikwels haatlik. Alles wat God is, blyk ek juis nie te wees nie.
Tog lyk ons meer na God as wat ons sou dink. Nee, nie uit onsself nie, maar die oomblik wanneer ons Hom aanbid as ons Vader en Verlosser, verander ons identiteit. Dan sien God ons “in Christus”, kyk Hy na ons “deur Jesus”. Dan is ons geen sondaars meer nie, maar is ons heilig! Ons moet dit nie alleen weet nie, maar ook daarop vertrou. Ek is heilig.
Gebed: Dankie Vader dat ek aan myself as heilig kan dink. Help my om dit te verstaan, daarop te vertrou en te leef soos iemand wat na U lyk. Amen