Vers-n-dag - 15 Julie 2015
Ek hou van God want Hy laat my anders oor myself dink
Danny Fourie
Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus … sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Romeine 8:34
Heilig. In Christus. Ja, ek is heilig in Christus.
'n Dominee vertel dat hy hierdie feit mis gekyk het toe hy op 'n e-pos van iemand gereageer het. Die persoon het geskryf dat hy so spyt was oor die dinge wat hy in die verlede gedoen het. Maar, so skryf hy, hy weet dat God hom vergewe het. God is goed, want hy was so 'n sondaar.
Die dominee troos toe sy vriend en skryf dat hy nie die enigste sondaar was nie. Hy wat die dominee is, was net so 'n sondaar soos sy vriend. Maar toe sien die dominee sy fout raak. Hy was besig om sy vriend te bemoedig deur vir hom te sê dat hy nie die enigste sondaar was nie. Wat vir 'n bemoediging is dit, het die dominee gedink. Lê hy en sy vriend nou albei in die sloot? Nee, het hy besef, hulle lê glad nie meer in die sloot nie. Hulle is glad nie meer sondaars nie.
Sê Paulus dit nie duidelik genoeg in sy brief nie? Elkeen wat Christus as sy Verlosser aangeneem het, is nie meer 'n sondaar nie, maar juis 'n heilige.
Toe skryf die dominee vir sy vriend: Maak kennis met jou nuwe “ek”. Jy is 'n nuwe skepping, 'n nuwe mens in Christus (2 Korintiërs 5:17).
Dit moet ek en jy ook doen. Moenie dit maar net as 'n mooi gedagte afskryf nie. Jy is nie besig om jouself vir die gek te hou nie. God se liefde maak nie blind nie. Hy weet ons is bedorwe. Hy weet egter ook dat ons in Christus gesterwe, begrawe en opgestaan het, dat ons 'n nuwe mens in Christus geword het. Ons is nou “sons of our Father”. En boonop lyk ons na Hom.
Gebed: Dankie Here dat U my in Christus 'n nuwe mens gemaak het. Dankie vir die verlossing, dat niemand my kan veroordeel nie en dat ek heilig is. Amen.