Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 16 Julie 2015

Ek hou van God, omdat Hy my as sy kind aangeneem het

Danny Fourie

… deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, … Efesiërs 1:5 (1953-vertaling)

Trots staan die egpaar voor die kansel. Die stralende ma wieg die kleintjie in haar arms. Die pa kan sy oë nie van die kleintjie afhou nie. Die liefde van hierdie ouers vir hulle kind is duidelik vir almal om te sien. Hier en daar in die kerk hoor 'n mens iemand snuif, by sommige loop die trane van blydskap oor hulle wange. Dit is 'n besondere dag. Jare lank het die egpaar vir 'n kleintjie gebid en nou is hulle gebed verhoor. Drie weke gelede het die maatskaplike werker hulle gebel en gesê hulle kan 'n baba seuntjie kom haal …

Wanneer jy met 'n nie-Christen oor die geloof praat, sal jy dikwels woorde soos hierdie hoor: “Ek glo wel in iets.” Nie-Christene glo wel in iets, maar hulle glo nie in die God van die Bybel nie. As Christene kan ons nie die bestaan van God bewys nie. Maar wat ek wel kan sê, is dat ek nie in iets glo nie. Ek glo in Iemand. En nie sommer enige iemand nie. Ek glo in God, die Skepper van die hemel en die aarde. En mooier nog, ek glo dat hierdie God my Vader is. Hy het my, Danny Fourie, as sy eie seun aangeneem.

Hoe is dit moontlik? Daardie “iets” waarna nie-Christene verwys, is my eie Vader. Dit was altyd sy bedoeling dat Hy ons as sy kinders sou aanneem, sê Efesiërs.

Hy wil ook jou Vader wees. Jy hoef maar net te sê dat jy sy kind wil wees en Hy sal jou dadelik aanneem. Ja, ek weet dat daar mense is wat nie God as hulle Vader kan sien nie, want dit laat hulle aan die gebreke van hulle aardse vader dink. Maar laat jou keuse vir God as 'n Vader nie afhang van die man wat jy jou biologiese vader noem nie, die man wat jou moontlik meer ellende as vreugde gebring het nie. God is wel 'n goeie Vader – iemand wat onvoorwaardelik van jou hou.

Gebed: Dankie Here dat ek U Vader kan noem. Dankie dat U my aangeneem het as u eie kind. Lei my elke dag. Amen.

Previous article: Vers-n-dag - 17 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 15 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.