Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 17 Julie 2015

Ek hou van God, want niks kan my van Hom skei nie

Danny Fourie

… of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die leifde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus onse Here.  Romeine 8:39

God het ons as sy kinders aangeneem. Dit was van die begin af sy bedoeling, het ons gister gehoor. En nou kom daar nog goeie nuus by: Hoeveel verdriet ek God ook al aangedoen het, sy liefde vir my word daarom nie minder nie. Kan jy glo dat God net soveel van jou hou op die oomblik dat jy iemand in die vuilste taal staan en beskinder as op die oomblik dat jy aan 'n Bybelstudie deelneem? Nie? Wel, dit is so. God hou altyd eweveel van jou.

Wat jy doen of wat jy probeer doen, God hou van jou. Hoe kan ek so seker daarvan wees? Omdat Hy dit self gesê het. Hoe hoog ons ook al uitstyg of hoe diep ons ook al geval het, daar is niks in die skepping wat ons van sy liefde kan skei nie – daardie liefde wat in Christus aan ons gegee is nie.

Is dit nie asemrowend nie? Dit maak nie saak wat ons doen nie. Rêrig? Dis tyd om op te hou om hierdie vraag te stel. Niks, niks, niks kan ons van God se liefde skei nie.

O, so nou kan ons maar doen wat ons wil, God hou mos in elk geval van my. Mooi, nou begin jy iets van God se liefde vir jou te verstaan. 'n Liefde wat hopelik soveel indruk op jou maak dat jy besef dat jy alles kan doen sonder om God se liefde vir jou op die spel te plaas. 'n Liefde wat hopelik terselfdertyd ook soveel indruk op jou maak, dat jy so baie van God hou dat jy nie meer alles wil doen om die God wat jou so onvoorwaardelik liefhet langer verdriet te wil aandoen nie.

God wil vir my en jou 'n pa wees. Hy het my en jou aangeneem om ons te versorg met die diepe wens dat ons by Hom gelukkig sal word en wees.

Gebed: Dankie Here vir die groot liefde waarmee U my liefhet. Help my om U nie meer seer te maak nie, maar u wonderlike liefde te beantwoord. Amen

Previous article: Vers-n-dag - 20 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 16 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.