Vers-n-dag - 20 Julie 2015
Ek hou van God omdat ek in Christus die sonde oorwin het (1)
Danny Fourie
Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is … Romeine 6:11
Die geleerde woord vir mense wat 'n erge vrees vir spinnekoppe het, is aragnafobie. Dit kom van die Griekse aragne wat spinnekop beteken en phobos wat vrees beteken. Hierdie langpoot gediertes het maar op almal van ons 'n kriewelrige uitwerking.
Die sonde oorwin? Klink hierdie opskrif nie verskriklik hoogmoedig nie? Ja, sê baie, ons het die sonde in Christus oorwin, maar tog sien 'n mens maar min daarvan. Kan ek beweer dat dat ek sonder sonde is? Romeine sê ek is vry van die sonde en dood vir die sonde. Die bloed van Christus het my sonde weggeneem en die kruis het 'n einde aan die bestaan van my as sondaar gemaak.
Wat met Christus gebeur het, dit het ons saam “in Hom” deurgemaak. Ons is saam met Hom gekruisig. Ons hoef God nie te vra om ons ook te kruisig nie. Toe Christus gekruisig is, is ons ook gekruisig. Ons is vry van die sonde. En dit sonder dat ons iets hoef te gedoen het.
Goed en wel, sê jy, maar in die praktyk lyk dit maar weinig so. Laat ons eers 'n misverstand uitklaar. Die sonde is nog daar, maar die slaaf wat dit dien, is dood. Romeine praat van die bevryding van 'n mag (sonde) wat deeglik nog daar is – nie van 'n mag wat nie bestaan nie.
Die langpoot spinnekop bestaan nog, dit laat ons nog kriewelrig voel, maar dit het geen mag meer oor my nie. Wanneer Johannes in 1 Johannes 5:18 sê dat 'n kind van God nie meer sondig nie, beteken dit nie dat die sonde nie meer in ons lewe is nie, en dat ons nie meer sonde sal doen nie. Wat hy daar sê, is dat om te sondig nie meer 'n eienskap is van die lewe wat uit God gebore is nie.
Gebed: Dankie Here dat ek nie meer 'n slaaf van die sonde is nie. Ek weet die sonde loer vir my soos 'n spinnekop, maar dit het nie meer 'n mag oor my nie. Amen