Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 22 Julie 2015

Ek hou van God want Hy help my teen die sonde veg (1)

Danny Fourie

Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.  Efesiërs 6:10

Wanneer ons na ons lewe kyk, is dit duidelik dat “dood vir die sonde” nie beteken dat ons nie weer kan sondig nie. Gister het ons gesien dat ons in die straat af na Jesus kan loop, maar soms is ons so dom om tog maar te gaan kyk wat Satan in die huise langs die straat aan te bied het.

Jesus se kruisdood het daarvoor gesorg dat Satan nie meer uit die huise kan hardloop om ons in te trek nie. Die Here wil ons verder help om nie eers te gaan loer wat Satan aanbied nie. Die Here wil ons met 'n rolstoel straat af stoot, sodat ons nie rigting sal inslaan na die huise toe en na die verkooppraatjies van Satan gaan luister nie. Maar ons moet wel gestoot wíl word. Ons moet besef dat ons dit nie uit onsself kan doen nie.

In Efesiërs 6 wys God vir ons dat Hy vir sy invalide kinders omgee. Hy stel 'n rolstoel tot ons beskikking. Wat beteken hierdie rolstoel in die praktyk? Om een met Hom te wees en God se krag in ons lewe te laat werk.

Verder het God aan ons wapens gegee. Ons moet daardie wapens gebruik. Moenie dink dat jy Satan met eie hande kan aandurf nie. Hoe dikwels het jy uit eie krag jou rug op Satan gedraai en in die rigting van God geloop? Satan word eers bang wanneer ons God se wapens begin gebruik. Solank ons dink hierdie wapens is nie nodig nie, sal ons elke keer verslaan word.

Satan wil ons laat glo dat ons self teen hom opgewasse is. En wanneer ons in sy leuens trap, dink ons dat ons God nie nodig het nie. Met God se wapens kan ons sonder littekens uit die stryd tree.

Gebed: Dankie Here vir u wapenrusting wat U vir my gee. Laat ek besef dat ek teen 'n gedugte vyand moet staan en nie moet probeer om in eie krag Satan teen te staan nie. Amen

Previous article: Vers-n-dag - 23 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 21 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.