Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 23 Julie 2015

Ek hou van God want Hy help my teen die sonde veg (2)

Danny Fourie

En hy (die duiwel) staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie … want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen. Johannes 8:44

Efesiërs 6 vertel ons presies hoe God se wapens lyk. Allereers moet ons die gordel van die waarheid aansit. Om teen Satan te veg, is die waarheid 'n besonder belangrike wapen. Satan is immers die oorspong van die leuen. 'n Mens moet jou nie van enigiets deur Satan laat wysmaak nie. Alles wat hy sê, lieg hy. Hoe mooi sy stories ook al klink, dit is leuens. Moenie daarin verstrik raak nie, veg terug met die waarheid. Het Adam en Eva dit maar gedoen. As hulle met die waarheid sou geveg het, het hulle die verbode vrug laat hang.

Om die gordel van die waarheid aan te sit, beteken dus dat ons eerlik moet wees. Veral met onsself. In 2 Korintiërs 10:4-5 skryf Paulus dat hy die teenstand met God se wapens breek. Met God se wapens ontsenu Paulus die leuens van Satan. “Die wapens … is kragtig om … redenasies te vernietig, en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God” (Direkte vertaling, 2014). Paulus sê dat hy elke idee wat maar enigsins teen God se wil ingaan, aan God voorhou en vra: “Wat dink U hiervan? Is dit 'n leuen of die waarheid?”

Paulus is eerlik met homself. Sodra hy agterkom dat hy deur die werk van Satan dinge begin bedink wat teen die wil van God ingaan, vertel hy vir God wat dit is. Paulus laat die gedagte dus nie toe om te groei en gevolglik daaraan toe te gee nie. Voordat dit te laat is, bring hy dit onder die krygsgevangeneskap van God, of soos hy sê, “neem ons elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus”.

Ek hoef nie meer te sê nie. Dit spreek vanself. Ons moet eerlik wees. Gebruik die waarheid. Laat jou nie deur Satan bedrieg wanneer hy probeer om jou te laat glo dat jy sake wel alleen kan aanpak nie.

Gebed: Dankie Here weer eens vir die wapens wat U my gee om Satan te weerstaan. Dankie vir die besondere wapen van die waarheid. Help my om eerlik te wees met myself. Amen

Previous article: Vers-n-dag - 24 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 22 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.