Vers-n-dag - 24 Julie 2015
Ek hou van God want Hy help my teen die sonde veg (3)
Danny Fourie
Sit verlossing as helm op … Efesiërs 6:17
In Efesiërs sê Paulus dat ons die stryd teen Satan moet stry. In werklikheid die skoene van bereidheid moet aantrek om die goeie nuus van die vrede met God (verder) bekend te maak. Ons moet lojaal wees teenoor die Here en tot ons dood teen die vyande van God bly veg.
Eintlik is dit logies. Wanneer ons die stryd opgee, maak ons dit vir Satan baie maklik. Dan staan ons terug en gee vir Satan die vryheid om te doen wat hy wil. Wanneer ons uit die stryd tree, beteken ons nie meer vir die Here iets nie. En wie nie vir die Here is nie, is teen Hom. So eenvoudig kan 'n mens dit stel. Kan 'n bokser met een van die rondtes 'n bietjie ontspan? Natuurlik nie, al loop hy ook voor. Sy teenstander kan hom baie maklik in 'n hoek vaskeer en hom die geveg laat kos. Wanneer ons dus ons geveg met Satan verslap, moet ons weet ons gaan 'n paar houe kry.
Wanneer ons nie glo dat die wapens wat die Here ons gee sterk genoeg is om die geveg teen Satan te wen nie, kan ons net sowel die wapens in die garage gaan bêre. Wat beteken die waarheid, wanneer jy dit self nie glo nie? Wat beteken Jesus se verlossing as jy dit nie glo nie? Wat beteken die stryd teen Satan as jy nie daarin glo nie? Niks.
Die helm van verlossing hou in dat God ons beloof het dat ons die stryd teen Satan sal wen. God het reeds in Jesus die uitklophou, die genadeslag, uitgedeel. Dit is reeds waar gemaak. Ons het gewen. Hou daaraan vas. Moenie dink dat Satan nog 'n kans staan om God te verslaan nie. Satan is die verloorder. Ek en jy hoort by die kant wat al gewen het.
Gebed: Here, sonder u hulp sal die Satan my oorweldig. Sonder u hulp druk die Satan my in die kryt in 'n hoek vas. Ek bid dat U my sal help om u wapens te leer ken en elke dag in die stryd teen Satan te gebruik. Amen