Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verhoudinge: Speel saam - 4 Augustus 2015

Carina Francke

Dit is algemene kennis dat speel kinders onder andere intellektueel prikkel, breingroei en

-ontwikkeling verhoog, en nuwe neuronkonneksies in die brein vestig. Emosioneel is speel 'n ontlading vir energie en stres, dit laat jou ontspan en wakker weer 'n liefde en waardering vir die lewe aan - veral by volwassenes.

Maar seker die belangrikste voordeel van speel is dat dit verhoudinge tussen mense bevorder. Wanneer speelse kommunikasie en interaksie hoog aangeslaan word, kweek dit 'n atmosfeer vir maklike en gemaklike konneksie, asook intimiteit.

Een manier om dit reg te kry, is om te kyk hoe kinders dit doen. Hul kreatiewe verbeelding-speletjies van leeus en krokodille, van mammas en pappas met popkinders, van skelms en superhelde, slaag daarin om samehorigheid te skep. Hulle word kwaad, huil, lag en dans op maat van die musiek van speel in hul harte. Hulle spéél die kwessies van die lewe na die agtergrond en vind in en bymekaar 'n gemeensaamheid wat gelukkig maak. Hoor hoe beskryf Johannes kinders se spel: "Dit is soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie." (Matteus 11:16,17).

Nêrens is aangeteken dat Jesus speletjies gespeel het nie, maar daar is bewys dat Hy 'n hart kinders gehad het, dat Hy tyd gemaak het vir hulle. Vir Hom was hulle die voorbeeld van die gesindheid waarmee mense sy koninkryk moes ontvang (Matteus 19:13).  Hy moes 'n besondere speelse toeganklikheid gehad het dat kinders sonder skroom op Sy skoot kom sit het, toegelaat het dat Hy sy arms om hulle vou en stilsit dat Hy hulle seën. Hy het nie geskroom om die dissipels tereg te wys oor die manier waarop hulle kinders hanteer nie.

Hy het ook gereeld saam met sy dissipels eenkant gegaan. In daardie intieme oomblikke het Hy sy Vader se hart met hulle gedeel en hoop vir die toekoms in hulle vasgeknoop. Deur sy vertellings, gelykenisse en manier van doen, het Hy 'n atmosfeer geskep waar mense maklik met Hom kon identifiseer en hul behoeftes met Hom deel.

Jy mag dalk vra: Waar kom  "speel" in hierdie verwysings na vore? Jy sien, om te speel, vra dat jy tyd daarvoor inruim in 'n oorvol program. Dit is presies wat Jesus gedoen het -  Hy het planmatig te werk gegaan - Hy het oomblikke geskep waar Hy in sy mensheid, werklik mens vir ander geword het sodat hulle verhouding kon beleef.

Ek kan nie help om te wonder nie: As speel dit moontlik maak om verhoudinge te kweek en te laat verdiep, hoe is dit dan dat ons nie méér intensioneel speel nie?

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die gawe van mense. En dankie vir kinders wat ons kan leer hoe lyk die koninkryk van God in ons wêreld. Verander my vasgemesselde denkpatrone sodat die speelsheid van kindertjies ook in my verhoudinge sigbaar raak - met U en met mense. Amen

Previous article: Verhoudinge: Speel saam (2) - 5 Augustus 2015 Prev Next article: Verhoudinge - 3 Augutus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.