Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verhoudinge: Speel saam (2) - 5 Augustus 2015

Carina Francke

Ons het gister gesels oor die voordele van speel en hoe kinders en Jesus daaraan uitdrukking gee.

As volwassenes wil speel, vra dit dikwels 'n verskuiwing van denkgrense, 'n oorklim uit gemaksones en les bes, om soos kinders, ten spyte van die lewe wat gebeur, uitbundig en met waagmoed uit te storm en te speel!

Onlangs tydens 'n besoek aan 'n kwekery, hoor ek êrens agter my die geraas van trolliewiele en iemand wat  plesierig gil: "Ai, jongman, dis die lewe! Vinniger! Vinniger!" Op die trollie staan 'n laggende, waardige, baie senior dame terwyl 'n werker met haar en haar plantaankope tussen die breë kwekerypaadjies rondjaag. Verspot? Nee! Net 'n vrou wat die oomblik aangryp om haar verhouding met die léwe uitbundig te vier!

Hoe speel mense wat lankal hul kinderskoene ontgroei het? In die natuur, naby aan die skepping. Met goeie boeke, plesierritte op 'n motorfiets, met kuns, musiek, dans, stokperdjies, dagdroom, en … en.  Kortom, jy speel as jy van jou daaglikse roetine wegstap en die ongewone doen. En wanneer jy hierdie ervaringe met ander deel, maak jy die deur oop vir verrykende verhoudinge.

Dit is egter ook geleenthede waar 'n getroude paartjie speel soos kinders wat plesierig sing en dans - iets wat Isak en Rebekka kon regkry, soveel so dat die koning nie anders kon as om dit op te merk nie: "Toe, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou." (Genesis 26:8b) Die Griekse woord vir speel beteken letterlik om te speel soos 'n kind (Vine's Dictionary), terwyl ander Bybelvertalings dit interpreteer as liefkoos. Wat die geval ookal mag wees, hierdie insident was belangrik genoeg dat die Heilige Gees die skrywer geïnspireer het om dit in die Skrif aan te teken.

Ek herinner jou weer aan gister se Skrifgedeelte waar Jesus die mense konfronteer: "Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie." (Matteus 11:16,17). Dit was inderdaad nie Johannes se bedoeling om volwassenes aan te praat om te speel nie, maar hierdie gedeelte beskryf die passiwiteit en apatie van volwassenes treffend ‑ ons staan loodvoete terwyl die musiek van die lewe speel.

Gebed: Vader, ek bely dat ek in my besig-wees min tyd inruim om stil te staan by mense wat ek padlangs ontmoet. U wil hulle dikwels gebruik om mens vir my te wees sodat ek U ook in hulle kan sien, maar ek loop dit soms mis. Ek vra nederig, as dit dan weer my beurt is om mens vir hulle te wees, maak my sensitief om te weet hóé. Amen

Previous article: Verhoudinge - Eet saam - 6 Augustus 2015 Prev Next article: Verhoudinge: Speel saam - 4 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.