Verhoudinge - Eet saam - 6 Augustus 2015
Carina Francke
Saameet in ons dag het meer as net saamkom rondom 'n bord kos geword. Dit is 'n ervaring, 'n reis wat begin by die plek waar jy eet, wat gemeet word aan wat jy eet, die kwaliteit daarvan, die uitwerking van elke dis op die smaakknoppiesen wat eindig met die subtiele hoek-afvee van jou mond. Die blywende, dieper voordeel van so 'n ervaring is egter wanneer dit saam met ander kosliefhebbers geniet en gedeel word.
Maaltye in Bybelse tye staaf die nut van verhoudinge rondom kos. Etes was 'n simbool van vertroue, broederskap en die deel van mense se lewe met mekaar. Daar is egter altyd die uitsonderings. Soos Jakob wat vir sy broer Esau 'n smaaklike pot lensiesop voorberei in ruil vir sy eersgeboortereg. (Genesis 25:33-34). Vermom as Esau berei hy ook 'n ete onder valse voorwendsels vir sy pa Isak voor en ontvang só die seën wat vir die ouer broer bedoel was (Genesis 27:23). Omgeskakel in moderne idioom: dikwels nooi Jakobs die Esau's na etes net vir persoonlike gewin.
Oneerlik! Veral as ons dit meet aan Jesus se onselfsugtige motiewe. Hy het graag saam met mense rondom kos gekuier - nie net belangrike en gesiene mense nie, maar ook met sy vriende, rantmense en die skares.
Tydens hierdie geleenthede het Hy 'n nuwe manier van leef verkondig: Hy spreek sonder skroom sekere sosiale kwessies aan; gee onderrig oor God se koninkryk en vergewe mense se sondes. Sy hart was vír mense, en etes was 'n gemaklike manier om by hulle harte uit te kom. Geen wonder nie dat Hy homself sommer vir ete nooi na Saggéüs se huis: "Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly." (Lukas19:5).Saggeus se lewe word tydens hierdie ete, onherroepelik verander. 'n Vrou met reputasie wat by 'n ete opdaag, sy voete met haar trane was, afdroog en salf, word met hoop weggestuur:"Jou sondes is vergewe" (Lukas 7:50)
In die Handelinge kerk het gelowiges as gelykes saamgeëet, want ryk en arm het hulle kos en geloof gedeel - hulle het koinonia gehou. Dit was 'n praktiese uitdrukking van hulle nuutgevonde geloof en geneentheid teenoor mekaar. Is hierdie soort saameet nie dalk 'n manier om moderne individualisme te stuur in die rigting van 'n gemeenskap wat vir mekaar omgee nie? Is dit nie juis waarom Paulus sê nie?: "Streef na gasvryheid" (Romeine 12:13)en Petrus: "Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer." (1 Petrus 4:9)
Gebed: Vader, as ek u hart vir mense kan hê en u oë van deernis kan leen om deur hulle pyn en voorgee te kan sien, dan sal ek my tafel dek en volpak met die beste wat ek het. Dalk sal mense dan weer voel hulle behoort en word onvoorwaardelik aanvaar. Help my asseblief om presies dit te doen! Amen