Verhoudinge: Groei Saam - 7 Augustus 2015
Carina Francke
"Die gesin is die plek waar kinders se lewenspad vorentoe begin. Dáár word die rigting en die aard van die pad bepaal" aldus TS Elliot. Spreuke 22:6 bevestig dit: "Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef."
Geestelike ontwikkeling en -groei se wortels lê in ons verhouding met die Here: "Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag" (Deuteronomium 6:4,5). Binne die gesin is hierdie opdrag 'n saamgroei-aktiwiteit: ouers begelei hulle kinders na hierdie besondere verhouding met God.
Verse 7-9 leer hóé: bêre die woorde van God in jou hart; skerp dit in by jou kinders; praatdaaroor - in jou huis, op die pad, as jy slaap en opstaan; onthoudit; skryf dit neer, maak dit sigbaar in jou huis.
Wanneer ons saam bid, groei ons in die besef dat ons afhanklik is van Iemand groter en magtiger. Dit word 'n gesamentlike erkenning dat God ons Helper, Voorsiener, Redder is, ja, die Ek Is, wat naby sy mense leef. Ons gebede van geloof in God, bring sy hand in beweging: wanneer jy vir jou vyande bid, ontwapen jy hulle; wanneer jy vir geliefdes bid, beskerm of bemagtig jy hulle en wanneer jy vir leiers en hoogeplaastes bid, "kan ons 'n rustige en stil lewe lei in toewyding aan God en in eerbaarheid" (1 Timoteus 2:2).
Emosies is 'n gegewe in elke mens se lewe. Hóé ons egter met 'n spesifieke emosie op 'n spesifieke moment omgaan, beskik oor die vermoë om mense nader na mekaar te groei of om 'n wig in te slaan. Jesus verklaar sy liefde aan sy dissipels en hou dit as voorbeeld voor hoe ons mekaar moet liefhê: "'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het moet julle ook mekaar liefhê" (Johannes 13:34). Selfs wanneer ons kwaad word, moet dit getuig van ons liefde vir God en die mens vir wie ons kwaad word: "Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie en gee aan die duiwel geen plek nie" (Efesiërs 4:26).
Jesus raak 'n ander aspek van groei aan:"Voorwaar, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie" (Matteus 18:3). Volwassenes het nodig om kinders se optrede dop te hou, in die Woord te delf vir leidrade en biddend te vra dat die Heilige Gees dié kwaliteite van kinders sal uitwys wat Hy so hoog aanslaan. En dan, met die hulp van die Heilige Gees, moet ons ons lewens in daardie rigting begin stuur.
Gebed:Hemelse Vader, dankie dat daar ook mense op my pad saam met U is, met wie ek hande kan vat op hierdie lewenslange groeipad. Amen