Verhoudinge: Wees waar Hy is - 11 Augustus 2015
Carina Francke
Elke mens is op 'n lewensreis. Dit behels egter meer as die reis en bestemming - dit vind betekenis in wié saam met ons op hierdie reis is en met wie ons in verhouding staan. God se liefde vir mense en sy begeerte om met hulle in verhouding te staan, is die lewensasem van ons reis: "....kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is" (Johannes 14:3).Ons "wees waar Hy is" groei ons na 'n mens wat voortdurend verander word om meer soos Hy te wees (2 Korintiërs 3:18). Vanuit hierdie verhouding word dit makliker om mens vir 'n ander mens te wees op hierdie lewensreis.
Dit bring egter verantwoordelikheid: jy moet ander mense ook lei na "waar Hy is" - 'n aksie wat nie onmoontlik nie: "Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus" (Efesiërs 4:11-12). Die sielkundige, Larry Crab, vat dit mooi saam: "Die kerk is 'n gemeenskap van mense op 'n reis na God." Opregte gee-verhoudinge word 'n belegging met ewigheidswaarde waar ons as gelowiges individueel en korporatief groei na eenheid in ons geloof en in die kennis van Jesus (Efesiërs 4:13).
Jesus leer ons hoe: "En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees..." (Markus 3:14). Let op: Jesus neem die inisiatief om hulle by sy lewe te betrek. In hierdie verhouding leer hulle wie God werklik is, wat die implikasies is om Jesus Christus heelhartig te volg, asook hulle taak as sy volgelinge. Verder het hulle verhouding met mekaar 'n dinamiese krag van diens ontgin wat die wêreld vir altyd sou impakteer.
Hierdie soort verhouding vra dat ons voorbeelde sal wees. Of nog beter, die voorbeeld lééf. In 'n stukkende en deurmekaar wêreld is dit nie maklik nie. Hoe gemaak om dit reg te kry? Wees waar Hy is! Volg Hom soos jou eie skaduwee jou volg. Hy is die Lig - leef in sy lig; Hy is die Wynstok - bly in Hom (Johannes 15:4,5); Hy is die Weg - loop sy pad; Hy is die Waarheid - glo in Hom; Hy is die Lewe - leef vanuit Hom wat in jou woon (Johannes 14:6).
Gebed: Here, die wete dat ek, 'n spikkel-mens in die heelal, by U mág wees en dat U my lewensreis wil meemaak, vervul my met verwondering. Laat u Gees my opmerksaam maak om nooit mis te loop wat U deur ons verhouding in ander mense wil doen nie. Amen