Mense wat jy in jou lewe nodig het - 12 Augustus 2015
Carina Francke
"Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis....na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape" Genesis 1:26-27
Adam en Eva was sy verteenwoordigers wat saam 'n aardse reis met spesifieke opdragte moes aanpak en al was God altyd teenwoordig, het twee mense mekaar steeds nodig gehad vir die reis.
Leonard Sweet verwoord hierdie waarheid op 'n ander manier: "Die vreugde is nie in die reis nie; dit lê in die verhoudinge; dit is waar ek jou ontmoet, in Christus; dit is nie 'ek wat ons' word nie; dit is ons wat Hy word" (11 Indispensable Relationships p19)
Prediker 4:9 bevestig die waarheid: "Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid." Die skrywer gee die redes vir sy uitspraak: as albei val, kan die ander een hom optel; een alleen kry koud, maar twee maak mekaar warm; as een aangeval word, kan altwee teenstand bied; en dan span hy die kroon op verhouding:"'n Driedubbele lyn word nie gou verbreek nie" (v12). Slegs God se betrokkenheid by ons verhoudinge, maak die verhoudingstou sterker.
Bo en behalwe genoemde voordele, het ek en jy mense in ons lewe nodig wat ons uit ons gemaksones kan daag. Hulle insette help ons dikwels om die selfgespande grensdrade van ons opinies, tradisies, tonnelvisie en selfregverdiging af te breek, sodat ons nuut kan dink en anders kan doen. En in die proses leer ons God vanuit 'n nuwe perspektief ken en ontdek waarheid wat losknoop en vry maak.
Elke gelowige, trouens elke mens, het gidse, mentors, wagte en wyses nodig om ons by te staan op ons reise en om teenwoordig te wees wanneer ons uiteindelik ons bestemmings bereik.
Gebed: Vader maak my bewus van dié mense wat U langs my wil laat stap om hard en duidelik in my ore te praat en om my aan te help wanneer ek sukkel om vorentoe te beweeg as gevolg van my selfgespande grensdrade. Amen