Mense in jou lewe - Debora, 'n rugskild - 13 Augustus 2015
Carina Francke
In die lig van 'n gebrek aan manlike leiers in Israel (Rigters 5:7), tree Debora as rigter en profetes vir die volk Israel op. God beveel haar om Barak te stuur om Israel van sy verdrukkers, die Kanaäniete te verlos. Met 'n eenvoudige strategie hoe om die oorlog te voer, asook sy belofte dat Hy die vyand in Barak se hande sal gee, roep sy Barak op tot oorlog. Dit is egter nie genoeg versekering vir Barak nie - hy versoek Debora se teenwoordigheid as hy optrek in die oorlog: "As u met my saamtrek, sal ek ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie" (Rigters 4:8). Miskien het hierdie versoek te doen gehad met haar gesindheid teenoor mense: "My hart is vir die aanvoerders van Israel wat hulle gewillig betoon het onder die volk" (Rigters 5:9).
In die lig van die mindere rol wat vroue in die destydse samelewing beklee het, moes Debora se verhouding met God en haar sterk geestelike leierskap, 'n geweldige indruk op Barak gemaak het. Hy het veilig gevoel by haar. Ons sal vandag in moderne terminologie sê dat Barak 'n oproep op haar gemaak het om sy rug toe te maak - om as 'n rugskild vir hom te dien.
Martin Luther het so iemand gehad nadat hy die vyf en negentig stellinge op die kerkdeure in Wittenberg vasgespyker het. Toe die godsdienstige leiers terugkap, het Friedrich, die kiesbeampte van Saxony, vir Luther eenkant geroep en gesê: "Marty, ek het jou rug."
Isdit dan net diegene wat groot dinge vermag of ingrypende veranderinge teweegbring wat iemand nodig het om sy rug toe te maak? Nee, elke mens het 'n menslike rugskild nodig, iemand wat langs jou loop en iemand wat vir jou bid, want sien, êrens op jou lewenspad is daar 'n mens wat jou in die rug (wil) bykom - 'n mens wat jou integriteit, jou gees, jou roeping, God se droom vir jou wil kelder. Ongegronde agteraf praatjies en kritiek is dikwels so iemand se wapen wat verwond.
Rugskilde is mense wat jou toemaak met hulle gebede, met hul bemoedigende woorde en hulle opregtheid. Hulle is sensitief om nie disrespekvol of ondergrawend te wees nie en tree gewillig tussenbeide as koeëls om jou begin reën. Hulle neem die agtersitplek in om jou sterkte te wees en deins nie terug om 'n ondersteuningsrol te speel wanneer jy die held van die verhaal gaan wees nie.
Die lewe gaan egter nie net oor iemand wat jou rug toemaak nie, maar ook oor wie se rug jy toemaak. Wees 'n Debora - nie net vir jou tydgenote en vriende nie, maar ook vir die leiers en hervormers van môre: "Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n" (Filippense 2:4)
Gebed: Vader, dankie vir die rugskilde in my lewe wat my meermale een treë voor is om die vyand af te weer. Ek vra nederig dat U my ook as rugskild sal gebruik vir iemand wat in die oopte blootgestel staan. Amen