Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Rolspelers in jou lewe - Natan, jou redigeerder - 14 Augustus 2015

Carina Francke

Sonder iemand wat soms 'n spieël voor jou indruk, is jy blind vir die bedrieglikheid wat in jou hart verskuil lê. So iemand dra jou belange op die hart en glo in jou, maar wanneer dit nodig is, draai hy die spieël na jou sodat jy jouself kan sien. Hy is lojaal, maar sy lojaliteit teenoor God en wat Hy sê, geniet voorkeur. So iemand is jou redigeerder - hy sny hier, verander daar, laat jou soms oordoen, want die eindproduk moet God se storie wees.

Die profeet Natan was so iemand vir koning Dawid. Al was sy woorde aanvanklik: "Doen alles wat in u hart is, want God is met u", skroom hy nie om sy woorde terug te trek toe die Here "Nee" sê nie  1Kronieke 17:2-4). Maar daarna troos en bemoedig hy ook met die Here se belofte aan Dawid en die plan met sy seun:"Hy sal vir my 'n huis bou....Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid" (1 Kronieke 17:12-14).

Natan se stem in Dawid se ore, lei daartoe dat hy hom voor die Here afsonder en neerbuig: "Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het?" (1Kronieke 17:16).

Dawid steek sy owerspel met Bateseba en die vermoording van haar man weg, maar dis Natan wat by God daarvan hoor en Dawid se gewete word. Hy bestraf Dawid hieroor en Dawid erken sy skaamtelose oortreding: "Ek het gesondig teen die Here" (2 Samuel 12:13).  God vergewe hom en sy verhouding met God word herstel.

Natan verhoed ook dat Dawid sy belofte aan Batseba, naamlik dat Salomo koning sou word, onwetend verbreek. Hy openbaar Adonia, die tweede aanspraker op die troon, se komplot om homself koning te maak (1Konings 1:11-40) en red so Dawid se aansien.

Ons het almal iemand nodig wat die gordyn van ons lewe op 'n skrefie kan oopmaak sodat ons die wegsteekgoed kan herken. Wie is die persoon wat met opregte bedoelings vir jou kan sê dat jy nie uit Jesus se mond praat nie?; wat vir jou sonder vrees kan sê wanneer jy feite verkeerd het of iemand te na gekom het?  Dit is jou Natan.

So iemand hoor by die Here. Hy dra jou en jou gesin se belange op die hart. Dit is iemand met wie jy in verhouding staan en wat jou lewe "redigeer" omdat hy die Here se plan vir jou lewe in vervulling wil sien.

Het jy 'n Natan of vertrou jy net jouself as redakteur van jou lewe? Wees versigtig!

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir opregte mense wat my liefhet en u plan vir my so op die hart dra, dat hulle nie huiwer om so elke dan en wan die wegsteekplekke uit te wys, sodat ek die waarheid oor myself kan sien nie.  Help my om daarop ag te slaan.  Amen

Previous article: Rolspelers in jou lewe - Saggeus jou Rantmens - 17 Augustus 2015 Prev Next article: Mense in jou lewe - Debora, 'n rugskild - 13 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.