Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Rolspelers in jou lewe - Saggeus jou Rantmens - 17 Augustus 2015

Carina Francke

In Lukas 19 lees ons van die Jood Saggeus, 'n ryk, maar skelm belastinggaarder in diens van die Romeine. As hoofbelastinggaarder vorder hy tot die boonste trappie van die suksesleer deur sy oneerlikheid en geheul met die Romeine. Dit het van hom 'n gehate, uitgeworpene van die Joodse volk gemaak - 'n sondige mens met wie ordentlike mense nie meng nie - wat nog te sê tuisgaan! (Luk19:5-7).

En tog kies Jesus, soos soveel keer tevore met ander rantmense, om intensioneel stil te staan en 'n hand van vriendskap uit te steek: "En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggeus maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly" (Lukas 19:5).Hierdie ontmoeting en erkenning van hom as mens, keer Saggeus en sy huis om - 'n dief word 'n blymoedige gewer, kry 'n gewete en word gered. Toe sê Jesus aan hom: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom" (Lukas 19:9).

In moderne konteks posisioneer Saggeuse hulleself strategies om gesien en gehoor te kan word. Dit is daardie ouens jou krapperig maak. Hulle is ontaktvol, maar hulle vry sê pluk soms 'n sensitiewe snaar; hulle onortodokse manier van doen tref dikwels die kol; hulle ongemaklike vrae daag jou oortuigings uit; hulle "klim in die boom" sodat jy kan opkyk en meer as blare aan die boom sien. Met geen verwagting om uit die boom geroep te word nie, word hulle so onverhoeds betrap as dit wel gebeur, dat hulle byna uit die boom val as iemand roep vir koffie.

Soos Jesus, moet ons kan verbykyk by die wie of wat rantmense is, en hulle raaksien as mense wat liefde nodig het, maar dit ook kan gee. Daar is geen mens buite die bereik van Christus se liefde nie, daarom kan ons net ander se lewens aanraak met sy liefde as ons 'n "mekaar" benadering volg - mekaar bemoedig; leer by en van mekaar, gee aan mekaar, wees lief vir mekaar … As 'n mens dít kan regkry, word die dapper stap om hulle rantbuurte en lewens te betree, 'n eerste babatree uit jou eie sone van gemak, selfsug en -tevredenheid en vir húlle 'n eerste wankelende tree op die pad van hoop en "sigbaarheid" vir mense.

Hoe moet ons te werk gaan? Nader een mens op 'n keer. Met hulp: "Sonder My kan julle niks doen nie"(Johannes 15:5).

Gebed: Vader, dankie vir die verskeidenheid mense op my lewenspad. Herinner my dat hulle ook rigtingwysers na 'n vervulde lewe kan wees. Amen

Previous article: Rolspelers in jou lewe: die Heilige Gees - Een geroep langs jou - 18 Augustus 2015 Prev Next article: Rolspelers in jou lewe - Natan, jou redigeerder - 14 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.