Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Rolspelers in jou lewe: die Heilige Gees - Een geroep langs jou - 18 Augustus 2015

Carina Francke

Wanneer menslike rolspelers ons soms faal, is dit geen rede om op 'n hopie te sit en wonde lek nie, want die grootste rolspeler in enige gelowige se lewe is die onfeilbare, ewig-teenwoordige Heilige Gees in en by jou.  Hy is die Parakletos, die Een geroep langs jou, of in ons gebruikstaal, die Trooster wat deur die Vader en Jesus self gestuur is aan elkeen wat Jesus volg (Johannes 14:16; 16:7).

"En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees" (Johannes 14:17).

Jy is nooit sonder die teenwoordigheid van die Heilige Gees as jy daagliks leef vanuit die volgende waarhede in Johannes 14 nie:

Jy glo in God én in Jesus (v1); jy glo dat Christus in die Vader en die Vader in Christus is (v11); jy glo én leef vanuit Christus wat die weg, waarheid en lewe is (v6); en jy het Christus lief, daarom bewaar jy sy woord en gebooie (v15, 21, 23). Kan jy nou verstaan waarom dit vir jou en my moontlik is om in 'n intieme verhouding met die Godheid, te leef?

Om net ten dele te ken en daagliks gekonfronteer te word met soveel teenstrydighede van die lewe, kan verontrustend wees. Nogtans kan ons rus in die wete dat die Heilige Gees se betrokkenheid in ons lewens in alle opsigte betroubaar is:

Hy bly by jou en in jou (Johannes 14:17), daarom weet Hy presies wat jy voel en dink, Hy ken jou onsekerhede en vrese, asook jou worstelvrae oor wat werklik waarheid in 'n stukkende wêreld is om hierdie rede kan Hy jou lei in alle waarheid (Johannes 16:13) - as jy Hom toelaat.

Hy sal jou alles leer en sal jou herinner aanalleswat Jesus vir sy dissipels gesê het (Johannes 14:26).

Hy sal jou leer van die dinge wat jy nog nie weet nie: "Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie.  Maar  wanneer Hy gekom het, die Gees van waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei ... en die toekomstige dinge aan julle verkondig." (Johannes 16:13).

Jy moet ook onthou dat die Heilige Gees die letter van die Woord verander in 'n kragtige wapen wat jou saam met die res van die wapenrusting nie alleen in staat stel om weerstand te bied teen elke aanval van die koninkryk van duisternis nie, maar om staande en op jou pos te bly (Efesiërs 6:13,17).

Gebed: My Vader, maak my sensitief om te hoor en te reageer as die Heilige Gees in my gees praat. Ek wil dat die Waarheid my in elke area van my lewe lei. Amen

Previous article: Draers van 'n goeie nuus - Melaatses - 19 Augustus 2015 Prev Next article: Rolspelers in jou lewe - Saggeus jou Rantmens - 17 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.