Draers van 'n goeie nuus - Melaatses - 19 Augustus 2015
Carina Francke
Goeie nuus is altyd welkom, maar veral wanneer dit sy pad oopbreek deur 'n vesting van slegte nuus wat net hooploosheid en dood verkondig.
2 Konings 6:24 - 2 Konings 7 vertel van die hongersnood wat die onvermydelike lot van die inwoners binne die stad Samaria was nadat die Arameërs dit beleër het. Geen kos- en watervoorrade kon van buite aangevul word nie en beskikbare kos was onbekostigbaar.
Hierdie gedeelte vertel egter ook hoe verskillende mense in 'n krisis reageer en hoe diegene van wie jy die minste verwag, as helde uit 'n krisis stap.
Die koning is moedeloos en sien geen uitkoms nie, hy wil die profeet Elisa om die lewe bring en blameer God vir hulle ellende. Sy adjudant deel sy pessimisme - hy reageer snedig en sinies op die boodskap van hoop dat uitkoms oppad is.
Die profeet Elisa aan die ander kant, vertrou God en dra die belofte van die Here, dat daar binne 'n dag kos in die stad sal wees, aan die koning en sy adjudant oor. Laasgenoemde maak dit smalend af.
Onbewus van hierdie nuus binne die stad, besluit vier uitgeworpe melaatses aan die buitekant van die stadsdeur om iets te doen aan hulle eie lot, eerder as om passief te sit en wag vir die dood. Teen skemer sal hulle oorloop na die Arameërs en aanvaar wat met hulle gebeur: "Laat ons oorloop na die laer van die Arameërs. As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!" (2 Konings 7:4).
Hulle kon hulle geluk nie glo nie - hulle kom by 'n soldaatlose kampterrein aan - die soldate het pad gevat en die kamp met so gelos! Daar is kos in oorvloed en die vier eet en vat gierig uit een tent na die ander, totdat hulle skielik 'n gewete ontwikkel: "Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot môrelig toe, dan sal ons skuldig staan. Kom dan nou, laat ons gaan en dit in die huis van die koning vertel" (2 Konings 7:9)
Hulle word die helde van die verhaal! Hulle is die draers van die goeie boodskap, 'n reddingsboodskap: God is die wonderbaarlike Voorsiener en oorwinnende Krygsman van die oorlog!
Ek en jy het ook 'n keuse hoe ons ernstige krisisse gaan hanteer. Die natuurlike geneigdheid is om 'n sondebok te soek, om God te blameer en om negatief te dink en praat. Soms het ons egter nodig om met ons harte en gebede "oor te loop" na die moontlik kant van hoop om onsself te herinner aan waartoe God in staat is. Daarna moet ons omdraai en die goeie boodskap vir onsself en ander vertel: God kán! Hy hét reeds! Hy is die Outeur van goeie nuus!
Gebed: Ek verklaar dat geen omstandigheid my gaan onderkry nie, want God kán voorsien; Hy kan beleëringsmagte van vrees en wanhoop laat verkrummel en my gebruik om van sy wonderwerk-voorsiening te vertel. Amen